GAUTENG. – ‘n Beweerde betreder het verlede week Dinsdag gesterf nadat hy in ‘n huis in Putswasteen, in Sharpeville, met die eienaar in ‘n struweling betrokke was.
Arrive Alive sê volgens konst. Busisiwe Sango het die man, wat glo deur die eetkamer-skuifdeur toegang tot die huis verkry het, die eienaar met ‘n mes gedreig. Tydens die struweling het die eienaar glo die betreder weggestamp, wat hom laat val het. Die man het ‘n kopwond opgedoen toe hy oor ‘n vaas in die gang geval het, waarna hy doodgebloei het.
Die huiseienaar het beserings aan sy elmboë opgedoen.
Sango het gesê dat die eienaar se aksies beskou word as optrede uit selfverdediging. Die polisie ondersoek steeds die voorval.

