Lees ook: Dodetal in Los Angeles-brande styg steeds
LOS ANGELES, VSA. – Vier persone is in Los Angeles in hegtenis geneem wat glo probeer het om nuwe brande te stig. Die vier verdagtes is in aparte voorvalle in hegtenis geneem wat buite die brandgevaarsones plaasgevind het.
Een van die verdagtes het glo met opset ’n brand begin naby die brand in Eaton en is aangekla op drie verskillende aanklagte van brandstigting. Hy kan tot nege jaar tronkstraf opgelê word.
Nog ’n verdagte het glo Sondag ’n braai-aansteker gebruik om brande in Hollywood te begin.
Die derde verdagte het glo ’n bos, ook in Hollywood, aan die brand gesteek. Die laaste verdagte is in die weste van Los Angeles in hegtenis geneem na hy glo ’n asblik aan die brand gesteek het. Altesaam 14 mense is tot dusver in hegtenis geneem vir misdrywe, soos die breek van die aandklokreël, tot huisbraak en plundery.
25 persone het tot op hede in die brande omgekom en 814 000 is steeds onder ’n ontruimingsbevel.
Bronne: New York Post, Metro, Daily Mail





