In vanoggend se diens is dit Braam se beurt om offergawes op te neem, en hy haal die Skrifgedeelte aan waar Jesus die grootste gebod aan die wetgeleerde gee:
Mat. 22:37 Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. 38 Dit is die eerste en groot gebod. 39 En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
Hierdie stelling van Jesus het my vir ‘n lang tyd verwar. Ek meen, hoe kan ek vir God en my medemens ewe liefhê? Ek ken dan nie eens almal ordentlik nie. Hoe kan albei ewe belangrik wees? Maar toe ek net ‘n bietjie stadiger lees en daaroor dink, toe besef ek ek verstaan dit verkeerd.
Daar word ‘n duidelike onderskeid gemaak van hoe ek moet liefhê. Vir God, met ALLES wat ek het. Vir my naaste, so lief soos vir myself. Groot verskil. Abei gebooie is ewe belangrik in God se oë, maar die diepte van die liefde verskil dramaties.
My vraag in die titel is: As christen, mag ek myself liefhê?
En my antwoord daarop sal wees: Jy MOET jouself liefhê! Hoekom? Want ek moet my naaste so liefhê soos myself. En hoe gaan ek dit doen as ek myself verag of selfs haat?
Ons gelowiges misgis soms trots met liefde as dit van toepassing op onsself is. Jy is nie trots of hoogmoedig as jy jouself liefhet nie, God het jou dan oneindig lief en Hy het jou so vreeslik wonderbaar geskape! Jy moet sterk wees om die swakke te help, gesond wees om die sieke te ondersteun. Dis belangrik dat jy na gees, siel en liggaam gesond, gelukkig en vol liefde is. Dan is jy in ‘n optimale toestand om jou naaste lief te hê.
My broer en suster, staan op, sien jouself soos wat God jou sien, en sorg jy groei in daai persoon sodat jy jou medemens kan liefhê soos wat God dit bestem het!
Ps. 139:14 Ek prys U omdat ek op ‘n ontsagwekkende, wonderbaarlike wyse gemaak is. Wonderbaarlik is U werke en ek besef dit maar te goed.





