KWAZULU-NATAL. – ‘n Avontuurlike jong man, Alexander Blignaut, het Sondag saam met ‘n vriend op ‘n plaas geloop toe hulle ‘n slang teëkom. Die slang is gevang en losgelaat, maar Alexander is in die proses gepik.
Mary-ann Moolman Blignaut, Alexander se ma, sê op sosiale media die jeug se nuuskierigheid het oorgeneem toe daar besluit is om die slang te vang. Die seuns was natuurlik onbewus daarvan dat dit ‘n giftige pofadder is. Alexander het ‘n slangbyt opgedoen en is vir dringende mediese behandeling na ‘n hospitaal gehaas, waar hy opgeneem is en aan’t herstel is. Die swelling aan sy hand is stelselmatig besig om te verminder. Sy het almal vir die hulp, raad en inligting wat ontvang is, bedank.
Skarebefondsing is op die been gebring om Alexander se mediese rekeninge en herstel en versorging te dek.
Arno Naudé het ingespring en hulp sowel as raad aangebied. Hy het dadelik beskryf Alexander het die pofadder verkeerdelik aan sy kop gegryp en vasgehou terwyl hy vir ‘n foto gestaan het. Dit was met die laat los van die slang wat Alexander sy foon laat val het en daarna gegryp het. Dit was die oomblik wat hy deur die slang aan sy regterhand gebyt is. Met aankoms by die naaste hospitaal is hy vier flessies teengif toegedien.
“Hulle het sy arm in ‘n sling verbind. Ek het vir sy ma voorgestel om liewer die arm reguit te hou en dit steeds soveel as moontlik te lig. Soos met alle sitotoksiese byte was daar ‘n bespreking oor ‘n operasie wat ‘n fasciotomie genoem word. Ek het vir die ma vir ‘n tweede opinie die nommer van een van ons dokters op die Nasionale Slangbyt Adviesgroep gestuur om te help met ‘n moontlike oorplasing na ‘n provinsiale hospitaal. Voordat dit afgehandel kon word, is hy ontslaan, aangesien die swelling besig was om te sak en sy bloed goed gelyk het. Teen dié tyd het die swelling in sy bolyf versprei. Hy is by die huis en die swelling lyk vanoggend baie beter, maar dit sal nog vir ‘n aantal dae pynlik wees.”






