LIMPOPO. – Twee mees gesoekte verdagtes is Dinsdag tydens ‘n skietery deur die polisie in Ga-Mampuru, in die Burgersfort-polisiëringsgebied, doodgeskiet.
Brig. Hlulani Mashaba sê die polisie het tydens die insident gesteelde vuurwapens teruggekry, insluitend ‘n geweer, wat met verskeie ernstige en gewelddadige misdade in Capricorn en Sekhukhune verbind word. Die verdagtes het glo die gemeenskap geterroriseer en toe die polisie hulle in ‘n hoek vaskeer, begin skiet. Die polisie het teruggeskiet en die twee is noodlottig gewond.
Mashaba sê verskeie eenhede het inligting van verdagtes wat in bosse langs die R555 naby Ga-Mampuru skuil, opgevolg, waarna die skietery ontstaan het. n Onbekende verdagte is doodgeskiet en ‘n 9 mm-pistool met lewendige rondtes is in sy besit gevind.
Die oorledene se makker het glo tydens die skietery met ‘n geweer van die toneel gevlug en skote na die polisie geskiet, waarna hy ook noodlottig getref is. ‘n R5-geweer met lewendige ammunisie, ‘n 9 mm met lewendige ammunisie en 12 selfone wat vermoedelik gesteel is, is in die oorledene se besit gevind. Hy is as ‘n voortvlugtige wat op 17 Maart 2023 van Lebowakgomo-landdroshof ontsnap het, geïdentifiseer. Sedert sy ontsnapping het hy van die gereg gevlug. Hy was op aanklagte van verkragting, inbraak en huisroof in aanhouding, toe hy by die hof ontsnap het.
Mashaba sê voorts die verdagtes was deel van ‘n groep wat na bewering verskeie misdade gepleeg het, dit sluit die moord op ‘n hoofwegpatrollie-sersant in, waartydens drie gewere gesteel is. Die verdagtes word vir meer as 10 sake, wat verkragting, moord, huisroof en ontvoering in onderskeidelik Lebowakgomo, Magatle, Sekhukhune en Mankweng se polisiëringsgebiede insluit, gesoek.
Nooddienste het beide op die toneel dood verklaar. Die ondersoek duur voort.

