MPUMALANGA. – Philip Mfana Masuku (62) is Donderdag vir stroperyverwante-oortredings op 17 Februarie 2019 deur die Skukuza-streekhof tot 14 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis.
Monica Nyuswa, woordvoerder van die NVG, sê aan Nuusflits Masuku is op vier aanklagte – betreding, die doodmaak van twee renosters, sameswering om ’n misdryf te pleeg en die besit van ’n gevaarlike wapen – skuldig bevind. Op die betrokke datum het veldwagters die beweging van drie verdagtes naby die Krugerwildtuin se Pretoriuskop-afdeling opgemerk en speurhonde gebruik om die skuldiges vas te trek. Masuku is aangekeer terwyl twee ander verdagtes gevlug het en nooit gevind is nie. Twee messe en ’n sak met vars afgesaagde renosterhorings is op die misdaadtoneel aangetref. Masuku is op borgtog vrygelaat, maar het later gevlug, waarna ‘n lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik is. Hy is in 2023 weer vasgetrek. Masuku het onskuldig gepleit en volgehou dat hy nie by die saak betrokke was nie.
Lot Mgiba, die staatsaanklaer, het egter onder meer verklarings aan die hof voorgehou van die veldwagters wat Masuku in hegtenis geneem het, asook die resultaat van ‘n DNS-ontleding wat bevestig het dat die bloed op Masuku se klere met dié van die gestroopte renosters ooreengestem het.
Die hof het hom tot drie jaar tronkstraf vir betreding, tien jaar vir die doodmaak van twee renosters, vier jaar vir sameswering om ’n misdryf te pleeg en een jaar vir die besit van ’n gevaarlike wapen gevonnis. Die vonnisse vir aanklagte 1 en 4 sal gelyklopend met die vonnis vir aanklag 2 uitgedien word. Dit beteken dat Masuku effektief 14 jaar direkte gevangenisstraf gaan uitdien. Die beskuldigde is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





