Video in berig.
KWAZULU-NATAL. – Die polisie neem kennis van ‘n video-opname van ‘n leerling wat glo aangerand en na ‘n polisievangwa gelei word. Die beweerde voorval word ondersoek. Vier leerlinge is Woensdagoggend na ‘n gewelddadige betoging buite ‘n skool in Jozini, op aanklagte van openbare geweld, aanval van polisielede en opsetlike saakbeskadiging in hegtenis geneem.
@SAPoliceService beating up learners in Jozini kzn after they were protesting against not being able to write their June examinations because of the protest action of teacher unions in KZN @SadtuNational @SADTUKZN @SABCNews @samkelemaseko @News24 @Newzroom405 #NationalDialogue pic.twitter.com/AKsZEdjIQS
— bee bheko (@bhekobinda) June 11, 2025
Lt.kol. Robert Netshiunda, polisiewoordvoerder, sê luidens verslae het hoërskoolleerlinge van twee skole na ’n derde, nie-betogende skool, opgeruk in ‘n onwettige, gewelddadige betoging by die skoolhek. Tydens die betoging is ’n polisievangwa met klippe beskadig en polisielede is aangeval. Vier leerlinge, tussen 18 en 20 jaar oud, is in hegtenis geneem, maar is later in die sorg van hulle ouers vrygelaat. Hulle sal vandag (Donderdag), vergesel deur hul ouers of voogde, op aanklagte in die Ubombo-landdroshof voorkom.
In ‘n video-opname wat op sosiale media versprei word, kan gesien word hoe ‘n leerling aangerand word, terwyl hy na ‘n polisiewangwa gelei word. Netshiunda sê sulke optrede is onaanvaarbaar en die egtheid van die video sal ondersoek word. Indien daar bevind word dat polisielede buitensporige geweld gebruik het, sal die nodige stappe gedoen word.
Studente, leerlinge en ander persone word daaraan herinner dat enige betoging of optog binne die raamwerk van die wet moet plaasvind. Die polisie sal beslissend optree om lewens, bestaansmiddele en eiendom te beskerm.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





