KWAZULU-NATAL. – Vier verdagtes is Vrydag in Toddstraat in die Verulam-sakesentrum in hegtenis geneem vir hul beweerde betrokkenheid by rooftogte waartydens moetie glo gebruik is om slagoffers te mislei.
Reaction Unit South Africa (Rusa) sê in ‘n sosialemediaplasing dié diens was nie vir die inhegtenisnemings verantwoordelik nie, maar is ontbied om ondersteuning te verleen. Die verdagtes, twee mans en twee vroue, word na bewering met verskeie misdade verbind wat volgens inligting met dieselfde modus operandi gepleeg is. Die vroulike verdagtes sou na bewering slagoffers op straat nader en met hulle in gesprek tree. Tydens die gesprek is daar glo moetie op die slagoffers se arms gesmeer en dan is hulle oorreed om in die voertuig van die verdagtes te klim. Daarna is die slagoffers saam met die manlike verdagtes na ander plekke geneem, waar hulle eers van waardevolle besittings beroof is voordat hulle langs die pad afgelaai is. Verskeie klaers het aan reaksiebeamptes gesê dat hulle na die tyd verward en gedisoriënteerd gevoel het, vermoedelik as gevolg van die moetie.
Die vier verdagtes is deur polisiebeamptes wat in die geheim gewerk het, in hegtenis geneem. ‘n Silwer VW Polo wat glo tydens die misdade gebruik is, is ook teruggevind.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]

