Deur Cornel Dunn vir LiG
Jerome Fredericks het in moeilike omstandighede grootgeword. Die kos was min en eenvoudig en daar was nie geld vir ander dinge nie. Maar sport het sy lewe verander en hom geleer om nooit sy droom van ʼn beter lewe te laat vaar nie.
Jerome Fredericks (48) het in ʼn gemeenskap in die Paarl met die naam Lantana grootgeword.
“Ek het met baie uitdagings geworstel,” vertel hy. “Ons was ʼn gebroke gesin, met my ma as die broodwinner. Ons het van haar karige inkomste as huiswerker geleef. Alhoewel daar befondsing van die welsyndepartement was, was dit nie naastenby voldoende nie. Ons lewe was gestroop, daar was min vooruitsigte.
Klein en beperk – maar daar was ʼn ma …
“Ek was nie bitter nie,” sê Jerome, “dalk bloot omdat ek nie gegoede mense geken het met wie ek my omstandighede kon vergelyk nie. Die kringetjie om my was baie klein en besonder ingeperk.”
Hoewel daar altyd kos was, was daar selde geld vir duursame klere of ander behoeftes. Vandag vertel Jerome van die groot respek wat hy vir sy ma het, van alles wat sy gedoen en opgeoffer het om hulle te versorg. Sy ma se lewe het om haar kinders gedraai. Sy het dikwels aan Jerome gesê dat niks onmoontlik is as jy iets wil bereik nie.
“Sy was ʼn besondere mens, al het sy nooit haar skoolloopbaan voltooi nie. Haar finansiële vermoëns was uiters beperk, maar sy het vir my ander vaardighede geleer, soos om die Here te vrees. Sy het op ’n keer gesê dat sy, soos Hanna in die Bybel, haar kinders aan die Here teruggee.”
Jerome reken wel dat hy baie ontbeer het weens die afwesigheid van ʼn vaderfiguur in sy lewe. Hieroor sê hy: “Eers nadat ek self ʼn pa geword het, het ek besef hoe belangrik my teenwoordigheid in my kinders se lewe is, en hoe groot die gebrek daaraan vir my was.”
Jerome is reeds van jongs af aan bende-aktiwiteite blootgestel. Hy vertel hoe hy destyds in die strate rondgedrentel het, geld gebedel het. Sy geliefkoosde plek was ʼn winkel waar hy die hele dag op die hoek gestaan het met die hoop om ʼn bietjie geld in die hande te kry.
Genadiglik, sê hy, het hy nooit by dwelms betrokke geraak nie, al was die druk baie groot.
ʼn Bose kringloop
Jerome het ʼn besliste mening oor die misbruik van dwelms en drank in agtergeblewe gemeenskappe. Hy sê dis ʼn bose kringloop: Die een voed die ander. Misbruik het armoede tot gevolg en armoede veroorsaak misbruik. “Daar is weinig hoop in sulke omstandighede. Oordeel dus maar sag – as jy wil oordeel.”
Jerome sê hy het nooit gedink dat hy eendag suksesvol sou wees nie: “As jy in ʼn huis grootword waar jy dae lank net brood het om te eet, en waar jou skoolgeld dikwels nie betaal is nie, haal jy jou oog van die horison af. Jy begrawe jou drome.”
Hy het boonop graad 3 gedruip. Maar op ’n manier was dit lewensveranderend. Hy het hom voorgeneem om nooit weer so iets oor te kom nie.
Wanneer hy vandag op sy skoolloopbaan terugkyk, onthou hy al die uitdagings en teleurstellings, soos die kere toe hy nie ʼn sporttoernooi kon bywoon nie omdat daar nie geld was nie. En as hy die keer wel kon gaan, kon hy bloot toekyk hoe die ander kinders koeldrank en sjokoladestafies koop.
Maar ook dit het hom nie bitter gemaak nie.
Sy lewe was wel sonder enige vooruitsigte op iets beters. Sy drome oor naskoolse opleiding het ál verder in die verskiet verdwyn.
Soos handomkeer
Hy was in graad 6 toe sy lewe soos handomkeer verander het. Op die straathoek waar hy gebedel het, het ʼn vriend hom teëgekom en na ʼn vlugbaloefening genooi. Hier het hy kontak gemaak met kinders wat ʼn hoë akademiese standaard gehandhaaf het, jong mense met ʼn gesonde lewensuitkyk.
Dit het hom gemotiveer om beter te vaar op skool. Hy het besef dat gesonde keuses baie deure vir hom kon oopmaak.
In 1995 is hy tot hoofseun van sy skool verkies. Hy was die top-leerling en het etlike akademiese en sporttoekennings ontvang. Hy was toe lank nie meer die arm seun uit Lantana wat op die Paarl se straathoeke gebedel het nie.
“Aan die einde van matriek, daardie dag toe ek my laaste vraestel geskryf het, was ek baie hartseer. Ek het gevrees dis die einde van my akademiese pad.
“Ek het wel nie moed opgegee nie en van bank tot bank gestap om vir ʼn studielening aansoek te doen. Nodeloos om te sê, nie een wou dit aan my toestaan nie. Ek het besluit om by die Universiteit van Wes-Kaapland te registreer. Sonder geld.
LEES DIE VOLLE ARTIKEL OP LIG HIER
Vrywaring: Nuusflits publiseer advertensies en geborgde inhoud vir bemarkingsdoeleindes. Die sienings en aansprake wat in advertensies geuiter word, weerspieël nie die standpunte van Nuusflits, sy redaksie, of enige van sy affiliasies nie.

