Deur Martjie Roos vir LiG
Televisiekykers het vir Daniëlla van Heerden meer as sewe jaar lank as ’n uiters professionele, koelkop nuusleser by kykNET se eNuus leer ken. Agter die skerms moes sy haar suksesvolle loopbaan en moederskap met mekaar probeer versoen. Dit het groot eise gestel. Oplaas het die tyd vir verandering aangebreek.
Ons ontmoet mekaar by Die Plaaskombuis, ’n restaurant met ’n landelike karakter in Blackheath, in die hartjie van Johannesburg. Daniëlla groet hartlik. Dit is die vooraand van ’n opwindende nuwe hoofstuk in haar lewe, die dag voor sy die heel laaste keer voor die kamera as nuusanker by eNuus sal inskuif. En dis drie dae voordat sy met haar nuwe werk as korporatiewe kommunikasiebestuurder by die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) begin.
LEES OOK: ‘Ek het skielik besef ek was so arm soos ’n geestelike boemelaar,’ vertel Danie Botha
Sy vertel: “Ek het ’n verandering in my loopbaan al ’n rukkie gelede begin oorweeg, sodat ek meer tyd saam met my gesin kan deurbring.”
Haar oudste dogtertjie, Simoné, word op 25 Maart vyf jaar oud en haar jongste, Lana, word twee op 8 Maart. “By eNuus moes ek meestal in die middae en aande werk. As hulle uit die skool kom, is ek by die werk. Ek kon nie saans, soos ander ma’s, hulle in die bed sit en slaaptydstories voorlees nie.
“Die twee word nou groter, en ek wil ’n groter deel van hul lewe wees. Simoné gaan volgende jaar graad RR toe, en dan is daar ook die buitemuurse bedrywighede wat wag.”
Daniëlla se nuwe betrekking beteken dat sy meestal by die huis kan werk. Haar werksure sal dus buigsaam wees en sy sal meer tyd saam met haar gesin kan deurbring. Haar wederhelf Cornél, ’n gesoute vryskutfotograaf, werk ook dikwels by die huis.
LEES OOK: Natasha Joubert: ‘Die Here het my, ’n geskeide enkelma, nooit alleen gelaat nie’
Die pos as korporatiewe kommunikasiebestuurder by Fedsas is onlangs geskep en dis daarom vir haar ’n groot uitdaging. “Daar is nuwe kommunikasiestrategieë wat gevestig moet word,” sê Daniëlla. “Ek sal ook, onder meer, met belangegroepe en skoolbeheerliggame skakel en hulle leer hoe om onderhoude met die media te hanteer en hoe om persverklarings te skryf. Ek sal dus steeds my joernalistieke vaardighede kan inspan.”
Die ink in haar are
Daniëlla het in Potchefstroom grootgeword. Sy het reeds op hoërskool, in Potchefstroom Gimnasium, geweet sy wil ’n joernalis word. Sy was die redakteur van die skoolkoerant en nadat sy die dagblad Beeld se skoolkoerantkursus bygewoon het, was sy baie opgewonde oor die moontlikhede wat joernalistiek aan haar kon bied.
Ná matriek is sy dus na die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus waar sy vir BA Kommunikasiekunde ingeskryf het. Sy was later ook redakteur van Wapad, die Pukke se kampuskoerant.
Nadat sy haar graad verwerf het, het sy vir ’n BPhil in joernalistiek by die Universiteit Stellenbosch aangemeld. “En in 2008 het ek as jong nuusverslaggewer by Beeld begin werk, wat ’n wonderlike leerskool was.
“Toe eNuus in 2010 op kykNET begin uitsaai, het Andries Cornelissen, wat voorheen die nuusredakteur by Beeld was, my genader om aansoek te doen om by dié nuuskanaal te werk. In Oktober 2010 is ek toe by eNuus aangestel, aanvanklik as nuusskrywer. Kort daarna het ek as verslaggewer begin werk. Ek het dit baie geniet omdat ek baie gereis het en baie interessante en inspirerende mense leer ken het.”
In 2018 is sy as permanente nuusleser by eNuus aangestel. En die res is geskiedenis …
LEES DIE VOLLE ARTIKEL OP LIG HIER
Vrywaring: Nuusflits publiseer advertensies en geborgde inhoud vir bemarkingsdoeleindes. Die sienings en aansprake wat in advertensies geuiter word, weerspieël nie die standpunte van Nuusflits, sy redaksie, of enige van sy affiliasies nie.





