KWAZULU-NATAL. – ’n Vrou is Saterdagmiddag in ’n verbyryskietery op die P100 in Ndwedwe dood.
Reaction Unit South Africa (Rusa) sê in ‘n sosialemediaplasing die operasionele sentrum is vir dringende hulp gebel, nadat ’n wit VW Tiguan omgeslaan en op sy dak in ’n erf langs die pad beland het. Een oproeper het bevestig dat ’n vrou in die voertuig vasgekeer was, maar kon nie die omvang van haar beserings bevestig nie. Reaksiebeamptes het hulle na die toneel gehaas en het omstreeks 18:25 daar aangekom. Met ondersoek is gevind dat die oorledene se voertuig en liggaam met koeëlgate deurtrek is. Sy is voor aankoms van enige nooddienste dood verklaar. Tien afgevuurde patroondoppe van ’n geweer is naby die voertuig op die toneel gevind.
Die motief vir die moord is nog nie bevestig nie.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





