OOS-KAAP. – Die polisie in die Oos-Kaap ondersoek vyf moorde nádat verbrande liggame Dinsdag omstreeks 12:30 in ‘n voertuig op die R345 naby Crossroads buite Peddie gevind is.
Brig. Nobuntu Gantana, provinsiale polisiewoordvoerder, sê polisiebeamptes is na die toneel ontbied waar die slagoffers in so ’n mate verbrand is dat hulle nog nie geïdentifiseer kon word nie. Selfs die voertuig is onherkenbaar. Hulp van die polisie se eenheid vir voertuigverwante misdaadondersoeke is ingeroep om die eienaar en registrasiebesonderhede van die voertuig vas te stel.
Die motief vir die aanval is onbekend en vorm deel van ’n aktiewe ondersoek deur die eenheid vir ernstige geweldsmisdade. Die polisie doen ’n beroep op enige persoon met inligting oor die slagoffers of die voorval om speur.sers. Kambela by 073 619 8489 te bel.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]




