OOS-KAAP. – Die polisie het ’n moordondersoek geloods nadat ‘n personeellid van die Walter Sisulu-universiteit (WSU) Donderdag omstreeks 17:30 by die Nkululekweni-ingangshek langs die N2-hoofweg by die Mthatha-kampus doodgeskiet is. Intussen sê brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, genl. Fannie Masemola, die nasionale kommissaris van polisie, is onderweg na Mthatha nadat die adjunk-vise-kanselier van die universiteit vermoor is.
Brig. Nobuntu Gantana, provinsiale polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits die slagoffer is dood agter die stuurwiel van ‘n stilstaande voertuig aangetref. ’n Voorlopige forensiese ondersoek bevestig dat die persoon verskeie skietwonde opgedoen het. Die motief vir die voorval is nog onbekend.
Forensiese deskundiges en speurders het die misdaadtoneel vir leidrade gefynkam.
Enigiemand met relevante inligting word gevra om na vore te kom.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





