Man gevonnis wat manlike slagoffer ná seks vermoor

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie Canva

WES-KAAP. – Wesley Snyders is deur die Vredenburg-streekhof tot 25 jaar direkte tronkstraf gevonnis, nadat hy erken het dat hy Erlilo Byl (27) ná seks op die strand in Saldanhabaai met ’n mes oor sy hele liggaam gesteek het, hom met ’n klip aangerand en van sy selfoon beroof het.

Eric Ntabazalila, NVG-woordvoerder, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits Byl is laas op 14 Januarie 2024 gesien, waarna hy as vermis aangemeld is. Sy liggaam is op 17 Januarie 2024 in ’n haglike toestand op die strand in Saldanha gevind.

In ’n pleitooreenkoms en vonnisooreenkoms wat met die staat gesluit is, het Snyders erken dat hy Byl tussen 14 en 17 Januarie 2024 onwettig en opsetlik doodgemaak het. Hy het die oorledene vermoor tydens ’n roof met verswarende omstandighede. Hy het beweer dat hy en Byl ooreengekom het om seks op die strand in Saldanha te hê. Hierna het hy besluit om Byl van sy selfoon te beroof. Die oorledene het weerstand gebied en geweier om die selfoon te oorhandig. Snyders het hom toe gesteek en toe hy val, met ‘n klip aangerand. Hy het die selfoon geneem en gevlug.

Hy het bevestig dat Byl as gevolg van die steekwonde en die aanranding met die klip gesterf het en dat hy die opset gehad het om Byl te beroof en daarna te vermoor. Hy het voorts erken dat hy, alhoewel hy onder die invloed van dwelms was, steeds tussen reg en verkeerd kon onderskei en in ooreenstemming daarmee kon optree.

Die senior staatsaanklaer het vir ‘n gepaste vonnis betoog. Die misdaad het ‘n traumatiese uitwerking op Byl se familie en vriende gehad. Ter versagting van vonnis het die verdediging aangevoer dat daar wesenlike en dwingende omstandighede bestaan het wat ’n ander vonnis as die voorgeskrewe vonnis regverdig. Daar is aangevoer dat die beskuldigde 18 jaar oud was ten tyde van die misdryf en dat sy jeugdigheid in ag geneem moet word. Hy het skuld erken en werklike berou getoon. Sy skuldpleit het die staat die koste en ongerief van ’n langdurige verhoor gespaar.

Die hof het beveel dat die beskuldigde twee derdes van die 25 jaar tronkstraf moet uitdien voordat hy vir parool oorweeg kan word. Die hof het verder gelas dat die familie van die oorledene van die vonnis in kennis gestel moet word en het Snyders onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.

Ntabazalila sê die NVG verwelkom die vonnis en gee die versekering dat dit voortgaan om oortreders van ernstige misdade soos moord te vervolg.

Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief