WES-KAAP. – Die Stad Kaapstad het die aankondiging van die departement van binnelandse sake oor die bekendstelling van twee digitale visumkategorieë vir die rolprent- en geleentheidsbedryf verwelkom.
James Vos, burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese groei, sê luidens ‘n verklaring digitalisering sal gedurende STAGES (Screen Talent and Global Entertainment Scheme) gebruik word om visumtoegang vir rolprentmaatskappye te vereenvoudig: “Dit sal ‘n bepalende faktor wees vir Kaapstad en Suid-Afrika se rolprentbedryf en sal die deur vir meer produksies oopmaak, asook vir beleggings en werksgeleenthede.”
Die tweede program, MEETS (Meetings, Events, Exhibitions and Tourism Scheme), sal internasionale bywoners van konferensies, uitstallings en wêreldwye geleenthede in staat stel om aanlyn vir visums aansoek te doen.
Leon Schreiber, die minister van binnelandse sake, het verder bevestig dat die proses vinnig sal geskied. Hierdie aankondiging volg net op die regte tyd vir Kaapstad, wat vinnig besig is om ’n toonaangewende sentrum vir internasionale byeenkomste, konferensies en geleenthede te word. Gedurende die 2024/25-boekjaar het die Kaapstad & Wes-Kaap Konvensieburo, wat deur Wesgro aangedryf en deur die Stad ondersteun is, 36 nuwe aanbiedinge gewen. Daar word geskat dit sal in 2028 ’n ekonomiese impak van R745 miljoen hê en ongeveer 27 230 afgevaardigdes na die stad lok.
“As deel van ons voortdurende poging om ’n florerende besoekersekonomie te bou, konsulteer ek tans met belanghebbendes in die toerisme-, gasvryheids- en lugvaartsektore om ’n sterk nuwe toerismestrategie vir Kaapstad te vorm. Hierdie strategie sal fokus op sleutelfaktore soos die toename in internasionale aankomste, die aanmoediging van volume, en die skep van ekonomiese neweprodukte wat plaaslike gemeenskappe bevoordeel.”
Vos het afgesluit: “Hierdie digitale visumkemas sal belangrike instrumente in daardie missie wees. Dit dui nie net op ’n meer moderne benadering van die nasionale regering nie, maar sal ook help om ekonomiese aktiwiteit aan te wakker en werksgeleenthede vir ons mense te skep.”
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





