KWAZULU-NATAL. – ’n Veiligheidsbeampte, vermoedelik in sy veertigs, is Sondagoggend kort voor 10:00 tydens ’n roof by ’n weddenskapskantoor in Lenny Naidurylaan, Chatsworth, suid van Durban, doodgeskiet.
Garrith Jamieson van ALS Paramedics sê dié diens het saam met Amawele Medics by die toneel opgedaag. Die veiligheidsbeampte het glo probeer om die verdagtes te keer, toe hy in die bors geskiet is. Paramedici kon niks vir hom doen nie en hy is op die toneel dood verklaar. ’n Verbyganger het geringe beserings opgedoen, is op die toneel gestabiliseer en daarna na ’n nabygeleë hospitaal geneem.
Die presiese oorsake van die voorval is nog onbekend. Die polisie was op die toneel en ’n verdere ondersoek is aan die gang.
KZN VIP Protection Services het die oorledene as ARO oftewel Vikesh Maniram geïdentifiseer en medelye met sy familie, vriende en kollegas van die One Stop Group-diens betuig.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





