Name weerhou om die slagoffer te beskerm.
WES-KAAP. – “Ek kan nie onthou hoe my lewe was voor my trauma nie, maar die nagevolge van wat aan my gedoen is, beïnvloed my tot vandag toe nog. As gevolg daarvan sukkel ek met baie woedeprobleme wat my lewe moeilik maak omdat ek nie my emosies kan beheer nie. Wanneer ek kwaad of ontsteld raak, bars ek vinnig uit.
“Ek is met angs gediagnoseer tot so ’n mate dat dit my werk beïnvloed het. Dit was so erg dat ek voortdurend van werk na werk beweeg het. Die oomblik wat ek onveilig of ongemaklik voel, trek ek terug of ek loop weg. My lewe het swaar geword weens my trauma. Ek ly aan PTSV wat vrees, angs, depressie, nagmerries, ’n verlies aan vertroue en slaapprobleme veroorsaak.
“Ek ly aan erge slapeloosheid en kan dae lank nie slaap nie. My gedagtes rus nooit. Die lewe voel meeste dae moeilik en eerlikwaar is ek bang vir die dag dat (naam weerhou) wraak sal neem omdat ek die waarheid praat oor wat hy aan my gedoen het.
“Deur die waarheid te praat, het my ma haar man bo my gekies. Sy het my letterlik verlaat, al het sy geweet wat hy aan my gedoen het. Sy het my steeds verlaat. Sy het eers probeer om my te manipuleer om stil te bly, sy het regtig glad nie omgegee deur wat ek gegaan het nie.”
Eric Ntabazalila, NVG-woordvoerder, sê in ‘n verklaring ‘n man (43) van Eastridge is effektiewe lewenslange tronkstraf deur die Mitchells Plain-streekhof opgelê. Die slagoffer (24) was oor twee dekades, vandat sy ‘n minderjarige was, haar stiefpa se slagoffer. Die misdade is aanhoudend gepleeg totdat dit aangemeld is.
Hy is op aanklagte van onsedelike aanranding, seksuele aanranding en vier aanklagte van verkragting skuldig bevind en gevonnis. Die slagoffer se ma het verkies om haar nie te glo nie en het selfs vir die stiefpa in die verhoor teen haar dogter getuig. Die stiefpa het die misdade teen hom ontken en gesê hy het sedert die slagoffer 19 jaar oud was ‘n verhouding met haar gehad en dat seks met haar konsensueel was. Hy kon selfs sy familie oortuig dat hulle in ‘n verhouding was.
Chantal Adams, die staatsaanklaer, het die slagoffer se getuienis gelei, wat gesê het haar ma was ten tyde van die misdade in dieselfde huis. Die misdade het ‘n mediese spoor van letsels, wonde en skeure gelaat. Die hof het die beskuldigde se beweringe oor ‘n verhouding verwerp en hom skuldig bevind op verskeie aanklagte van onsedelike aanranding, seksuele aanranding en verkragting. Op een aanklag van verkragting is die beskuldigde lewenslank gevonnis. Hy is in totaal lewenslank en 40 jaar direkte gevangenisstraf opgelê. Sy straf sal gelyktydig uitgedien word en sal hom dus lewenslank in die tronk hou. Hy is voorts onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit of met kinders te werk en sy naam sal in die nasionale register vir seksuele oortreders, asook in die nasionale kinderbeskermingsregister aangebring word.
Die slagoffer is deur die hof ingelig van haar reg om voorleggings te maak, indien die beskuldigde vir parool oorweeg word.





