NOORD-KAAP. – Die Demokratiese Alliansie (DA) sê dit sal sterker toesig oor die Tswelopele-tronk in Kimberley van die gekose komitee oor veiligheid en justisie versoek nadat wydverspreide smokkelary aan die lig gekom het.
Ofentse Mokae, DA-LP, sê in ‘n verklaring altesaam 38 selfone is tydens ’n klopjag in Junie by oortreders weggeneem, waarvan twee gesprekke tussen gevangenes en personeel oor dwelmsmokkelary bevat het. Hy sê personeel wat smokkelary help fasiliteer, moet aanspreeklik gehou word.
Mokae het tydens ’n inspeksie ook bevind dat die gevangenis al agt jaar sonder warm water is weens stukkende geisers en dat die kombuiskastrolle, wat byna 15 jaar oud is, in ’n swak toestand is. Hy sê beloftes is gemaak dat nuwe geisers en kastrolle aangekoop word en dat hy die vordering sal monitor.
Hy het bygevoeg dat die DA ’n verslag van die komitee sal versoek oor beweerde diskriminasie deur personeel teen ’n oortreder op grond van seksuele oriëntasie.
Nuusflits het die departement van korrektiewe dienste se kommentaar gevra.





