KWAZULU-NATAL. – ‘n Seun (6), wat Maandagaand in die Umbilo-omgewing van Durban vermis geraak het, se liggaam is meer as twee uur later in ‘n swembad in ‘n woongebied in Brazilia Place aangetref.
Garrith Jamieson van ALS Paramedics sê dié diens is omstreeks 18:00 oor die vermiste kind ingelig. Paramedici is op bystand geplaas. Omstreeks 20:35 het patrolleerders en veiligheidsbeamptes wat die gebied deursoek het, die kind in die swembad aangetref. Hy is onmiddellik uit die swembad gehaal en ALS Paramedics is ontbied om bystand te verleen. Daar kon egter niks vir die kind gedoen word nie en hy is dood verklaar.
Jamieson sê die toneel is afgesper en aan die polisie oorhandig. Die presiese gebeure wat tot die kind se verdrinking gelei het, is onbekend, maar die polisie ondersoek die voorval.




