OOS-KAAP. – Meer as 300 meisies tussen die ouderdom van 10 en 14 het sedert April 2025 in die Oos-Kaap geboorte gegee. Verskeie kriminele sake is aanhangig gemaak.
Die provinsiale regering het die statistiek op 3 September in ‘n verklaring bekendgemaak. In dieselfde tydperk het 4 752 tieners tussen 15 en 19 jaar ook by openbare hospitale geboorte geskenk. Die meeste gevalle is in die OR Tambo-distrik, Buffalo City en Nelson Mandelabaai aangeteken.
’n Aantal sake teen volwassenes wat minderjariges swanger gemaak het, is geopen. Drie van hierdie sake is egter deur families teruggetrek, wat volgens amptenare die regspraak ondermyn en ander kinders aan risiko blootstel. Die regering waarsku families teen die terugtrek van klagtes, aangesien dit verdagtes toelaat om aan te hou met misdadige gedrag.
Volwassenes wat seksuele omgang met minderjariges het, word sterk deur die provinsiale regering veroordeel. Daar word beklemtoon dat sulke dade statutêre verkragting uitmaak en daar dienooreenkomstig wetlik opgetree sal word. Volgens die Sexual Offences Act van 2007 is seksuele omgang met kinders van hierdie ouderdomme onwettig en vervolging is verpligtend, selfs wanneer albei partye minderjarig is en daar beweerde toestemming is. Artikel 54(1) van die wet vereis dat enige persoon wat kennis het van seksuele misdrywe teen kinders dit by die SAPD moet aanmeld.
Die gemeenskap word aangemoedig om die Suid-Afrikaanse Polisiediens of plaaslike kinderbeskermingsdienste te kontak om sake aan te meld.
Lees die volledige regeringsverklaring hier onder:




