GAUTENG. – Die departement van onderwys in die provinsie (GDE) het Maandag bevestig dat hulle kennis dra van Operation Dudula se veldtogte in Soweto. Skole is gevra dat Suid-Afrikaanse leerders bo buitelanders gepriotiriseer moet word. Die GDE sê egter burgerskap of immigrasiestatus is nie ’n bepalende faktor in die toekenning van skoolplekke nie.
Steve Mabona, GDE-woordvoerder, sê toelatings tot openbare skole word egter deur die Gautengse skooltoelatingsregulasies bepaal. Die departement het beklemtoon dat toelating volgens vasgestelde kriteria geskied, naamlik: huisadres binne die skool se voedingsone, broer(s) of suster(s) reeds in die skool of vorige skoolbywoning, werksadres binne die skool se voedingsone, huisadres binne ’n 30 km-radius van die skool en huisadres buite ’n 30 km-radius van die skool.
Die departement het verduidelik dat plasing volgens hierdie kriteria bepaal word deur die kapasiteit van elke skool. Hulle wys voorts daarop dat wetgewing nie die ontwrigting van skole of inmenging in onderrig en leer toelaat nie. “Skole moet veilige en toeganklike omgewings vir alle leerders, ouers en werknemers bly,” lui die verklaring.
Die departement doen ’n beroep op alle organisasies om dit daarvan te weerhou om skole en die onderrig van leerders te ontwrig. Die GDE sê dit sal voortgaan om die reg van elke kind op gehalte-onderwys te handhaaf en verseker dat alle toelatings ooreenkomstig die wet, beleid en etiese bestuur hanteer word.





