KWAZULU-NATAL. – Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het bevestig dat die geregtelike doodsondersoek na die verdwyning en dood van Oupa Ronald Madondo afgehandel is. Hy is in die tweede helfte van 1980 ontvoer, vermoor en sy liggaam is by die Jozini-dam vernietig.
Natasha Ramkisson-Kara. NVG-woordvoerder, sê in ‘n verklaring Madondo, wat op 20 Mei 1948 in Sophiatown, Johannesburg, gebore is, is saam met sy familie in 1958 weens gedwonge verskuiwings na Dube, Soweto, hervestig. Hy is in die vroeë 1970’s deur die African National Congress (ANC) gewerf. Hy is twee keer in hegtenis geneem, eers in Junie 1978 en weer in September 1979. Kort na sy vrylating in September 1979 is hy deur lede van die veiligheidstak ontvoer en nooit weer deur sy familie, vriende of ANC-kamerade gesien nie.
In 1996 het die waarheids- en versoeningskommissie (WVK) amnestie van vyf persone ontvang- vir die ontvoering en moord op ’n persoon wat net as Scorpio of Scorpion bekend was. Die aansoekers was Johan Martin van Zyl, Donald Spence Gold, Schalk Jan Visser, Gerhardus Stephanus Schoon en Disre Carr. Hoewel amnestie toegestaan is, kon die identiteit van die persoon destyds nie vasgestel word nie en die saak is vir verdere ondersoek na die NVG verwys.
Gedurende 2021 het die familie die NVG versoek om die aangeleentheid weer te ondersoek. Die ondersoek is deur adv. Dunywa, die adjunk-direkteur van vervolging in die provinsie, en die Valke, gelei. Die identiteit van Scorpio/Scorpion moes vasgestel word. ’n Geregtelike doodsondersoek is daarna in terme van die Inquest Act 58 of 1959 by die Pongola-landdroshof ingestel. Getuienis is onder meer deur familielede van Madondo, ANC-lede, bekendes en voormalige veiligheidstaklede gelewer. Op 27 Augustus het die hof bevind dat Oupa Ronald Madondo onder die skuilnaam Scorpio/Scorpion bekend was.
Die hof het vasgestel dat sy dood veroorsaak is deur die vyf amnestie-aansoekers. Ingevolge die Wet op die Bevordering van Nasionale Eenheid en Versoening 34 van 1995 kan persone wat amnestie ontvang het, egter nie vervolg word nie. Geen vervolging kan dus ingestel word nie.
Volgens die NVG het die Madondo-familie hulle dankbaarheid uitgespreek teenoor die span wat die ondersoek uitgevoer het en gesê dat die hof se bevinding vir hulle afsluiting gebring het. Die NVG sê hulle sal voortgaan om saam met slagoffers se families te werk om die onreg van die verlede aan te spreek en afsluiting te bied.
Druk hier om meer te lees.





