MPUMALANGA. – Egmant Herman Kohrs (35) is Vrydag aan die onwettige besit en vervaardiging van dwelms skuldig bevind. Hy is met meer as 5 kg dagga, wat gebruik is om dagga-olie te vervaardig, betrap en tot vyf jaar tronkstraf of R100 000 boete gevonnis.
Lt.kol. Magonseni Nkosi, Valke-woordvoerder, sê in ‘n verklaring Kohrs is gedurende Oktober 2023 deur die Valke in Secunda in hegtenis geneem, nadat die span inligting ontvang en ’n deursoekingsbevel bekom het. Tydens die operasie is ’n geheime laboratorium ontdek waar dagga-olie vervaardig is. Meer as 5 kg dagga, asook halfverwerkte dagga-olie, is op die toneel gevind.
Die beskuldigde het op beide aanklagte van die besit en vervaardiging van dwelms skuld beken. Hy is tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis met die opsie van ’n boete van R100 000.
Die vonnisse vir die twee aanklagte sal gelyklopend uitgedien word.





