WES-KAAP. – Die Sanlam Kaapstad-marathon is vanoggend om veiligheidsredes weens sterk wind gekanselleer. Deelnemers is versoek om nie by die wegspringpunt aan te meld nie, aangesien die marathon nie sal voortgaan nie. Verdere inligting sal later gegee word, het die organiseerders bevestig.
Die besluit om te kanselleer, is ongeveer 04:45 vanoggend gemaak nadat sterk wind deurnag gewoed het. Boodskappe van die kansellasie is om 05:00 in WhatsApp-boodskappe na ongeveer 24 000 atlete gestuur nog voordat hulle om 06:15 kon wegspring. Die wind het skade in Groenpunt aan ‘n markiestent aangerig en materiaal is van steierwerk en heinings geruk. Infrastruktuur by die begin- en eindpunt is beskadig en volgens kol. Christo Engelbrecht neem die wind kort-kort, in veral Woodstock, toe. Die omstandighede het volgens hom ‘n gevaar vir die hardlopers en voetgangers ingehou en daarom is ‘n besluit deur die gesamentlike operasionele komitee geneem om eerder die marathon te kanselleer.
Gerda Steyn, topatleet, het voordat die kansellasie aangekondig is, haar opgewondenheid oor die wedloop op sosiale media gedeel. “It’s finally time to line up for the @capetownmarathon 2025!! … I am extremely grateful to be here, I will run my heart out and not give up until the finish line!! Sending everyone positive energy in every step!! All the work has gone in, now it’s time to let it all out!!! 🏃🏽♀️💨❤️🔥” Steyn het haar boodskap afgesluit met die hutsmerke #letsgorunamarathon en #weareallinthistogether.
Vroeër het lt.genl. T.E. Patekile, die provinsiale polisiekommissaris van die Wes-Kaap, polisie-atlete vir die 2025 Sanlam Kaapstad-marathon verwelkom. Brig. Gift Kekana, voorsitter van die SAPD se nasionale marathonvereniging, het ná die kansellasie bevestig dat verdere kommunikasie aan polisie-hardlopers wat beplan het om aan die wedloop deel te neem, verskaf sal word. Hy het versoek dat alle polisie-hardlopers by die byeenkompunt bly en verdere instruksies afwag. Intussen het die polisie aangekondig dat die bestuur 595 polisiebeamptes wat sou deelneem, sal toespreek. Brig. Athlenda Mathe sê gesondheidsondersoeke vir al die polisiebeamptes sal om 09:00 deur Polmed by die SAPD Bishop Lavis-akademie in Kaapstad plaasvind. Lt.genl. Tebello Mosikili, die adjunk- nasionale kommissaris van die polisiediens, sal die beamptes om 12:00 toespreek.






