OOS-KAAP. – Philela Angela Tafeni (29), ’n amptenaar van die departement van vervoer, is Woensdag op onder meer aanklagte van bedrog en vervalsing van ‘n matrieksertifikaat deur die Valke in hegtenis geneem. Tafeni het dieselfde dag in die Qonce-landdroshof verskyn en is op R3 000 borgtog vrygelaat.
AO Ndiphiwe Mhlakuvana, Valke-woordvoeder, sê in ‘n verklaring daar word beweer dat Tafeni in Julie 2015 by die Oos-Kaapse departement van vervoer, se skoliervervoer-afdeling aansoek gedoen het vir die pos van data-invoerder op ’n eenjaar-kontrak. Sy is op 21 Junie 2016 permanent in die departement aangestel.
In Januarie vanjaar is inligting ontvang dat ’n werknemer in die departement ’n pos verkry het deur ’n vervalste matrieksertifikaat in te dien. ‘n Ondersoek het bevind dat die verdagte nooit gr. 12 voltooi het nie, maar glo ’n vals matrieksertifikaat gebruik het om in diens gestel te word. Hierdie misleiding het gelei tot ’n onwettige verdienste van R2 048 169, betaal tussen 1 Julie 2016 en 1 April 2025, wat groot finansiële skade aan die departement berokken het.
Die Valke het op 22 Oktober ’n arrestasiebevel by Tafeni se huis in Oos-Londen uitgevoer en sy is formeel aangekla. Ná die eerste hofverskyning is die saak is tot 31 Oktober uitgestel, wanneer dit na die streekhof verwys sal word.

