Overbergstreek besoek Deel 1:

Lees ook :

Na die verwoestende brande in die Overbergstreek wat dele van Bredasdorp, Napier, Stanford, Gansbaai en Pearly Beach lam gelê het, het hierdie dwaler besluit om die pad te vat en die area te besoek.

In tipiese plattelandse hospitaliteit is die area se mense gasvry, openhartig en verwelkomend.

Brande

Grootskaalse skade is aan fynbos en privaat eiendom aangerig. Bye- en blomboere het oeste en korwe verloor, terwyl die tafeldruiwe bedryf ook skade ervaar het. Ten spyte van die verwoesting is geen ernstige beserings of sterftes as gevolg van die brande aangemeld nie.

Volgens berigte was daar wel een sterfte in Stanford na ’n huisbrand, maar daar word gemene spel vermoed. Die huis het van binne gebrand en die persoon was reeds oorlede toe die noodpersoneel op die toneel aankom.

Stop een – Bredasdorp

Bredasdorp is in 1838 gestig in die Wes-Kaap se Overbergstreek. Die dorp is rondom ’n nuwe Nederduitse Gereformeerde Kerk op die plaas Langefontein gevestig deur Michiel van Breda, die eerste burgemeester van Kaapstad en die vader van Suid-Afrika se merinoskaapbedryf. Dit het ontstaan uit ’n geskil met die buurman P.V. van der Bijl, wat gelei het tot die stigting van die mededingende dorp Napier

De Groene Kat

Dwaal gerus in die hartjie van Bredasdorp, loer rond en word verras met die plaaslike tuisnywerheid, De Groene Kat. Die warmte waarmee ons ontvang is was ’n aangename verassing.

Jy mag dalk ’n tuisnywerheid verwag met ’n seleksie van tuisgebakte lekkertes, maar jy sal soveel meer ontvang wanneer jy oor die drumpel trap en die lui van ’n vriendelike klokkie jou aankoms aankondig. Dadelik sal mede-eienaar Samantha gereed wees met ’n glimlag.

De Groene Kat is reeds sestien jaar in besit van eienaars Samantha en André Eckerman. Die egpaar het van Somerset Wes getrek en De Groene Kat in 2010 gekoop. Die oorspronklike eienaars van De Groene Kat was van Holland, dit was eens ‘n speserye winkel. Die naam het egter gebly van eienaar tot eienaar.

Samantha vertel dat haar navorsing oor die naam haar gelei het na ’n boek met die titel De Groene Kat, geskryf deur Fritz Leiber. Die boek is in die sestigerjare geskryf en is later ook in Nederland verfilm. Volgens die storie beskik hierdie kat oor magiese kragte en bring hy geluk vir sy mense.

Spyskaart en boeke

Die spyskaart is klein, eenvoudig, dog bied dit genoeg opsies om jou smaakkliere te bederf. Heerlik, vars, ’n ruim porsies en bekostigbaar. Die prys mag jou dalk selfs verras. Die yskaste en rakke kreun onder die plaaslike tuisgebak en produkte wat ook beloof om nie die bank te breek nie.

De Groene Kat spog met sowat 30 plaaslike bakkers wat die tuisnywerheid voorsien van beskuit, koeke, terte en ander lekkernye. Die personeel span is klein, maar gedug en Samantha verduidelik dat sy, André, Fungai en Nicole lekker saam werk en goed oor die weg kom.

“Die gunsteling op die rak is melktert. Almal hou van melktert,” gesels Samantha. Sy spog ook met André se botterhoenderdis en sy gewilde hoenderschnitzel. “Wanneer dit op die spyskaart is weet ons sommer ons gaan ‘n besige dag hê!”

Kok Andre is ook die bobaasbrein agter De Groene Kat se spyskaart en gewilde, klaar-voorbereide aandetes. Net reg vir optel. ’n Voorstel, die lasagne en bobotie is nie te mis nie. Rye disse, juis De Groene Kat se lip-lekker lasagne, het reg gestaan om gesinne se magies te vul.

Jy sal sommer maklik daar uitstap met ’n nuwe vriendin se nommer veilig gestoor op jou foon. Mense gesels maklik en deel graag staaltjies.

Hou jy van lees? Wel, daar is ’n rits boeke teen weggee-pryse wat net wag vir ’n nuwe boekrak-tuiste. Daar is baie om van te kies, maar jy kan gerus ‘n duik in die rakke maak. My vingers het lekker tussen die titels gedwaal en is met goeie leesstof bederf.

Ten slotte

Dwaal in Bredasdorp vir plattelandse bederf, maak jou tuis by een van die drie tafels, loer na die spyskaart, plaas jou bestelling, sit terug, ontspan en neem die lekkerte van De Groene Kat in.

Dwaal-groete

Annette

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief