Brekende Nuus
Nuus

Donovan Marx se herstel vorder ná plaasaanval

Foto: Steyn du Toit Ing.

NOORDWES. – Donovan Marx se herstel vorder goed nadat hy op 28 Oktober tydens ’n plaasaanval in die Ventersdorp-omgewing ernstig beseer is. Hy het verskeie mediese prosedures ondergaan en ontvang steeds mediese sorg. Donovan en Louise Marx het toestemming gegee dat ’n onlangse foto van hulle saam in Mediclinic Potchefstroom met die publiek gedeel word.

Steyn du Toit Ingelyf, regsverteenwoordigers van Donovan en Louise, sê in ’n verklaring van 10 November die egpaar bedank ER24, die hospitaal se personeel en veral die intensiewesorgspan. Hulle bedank ook die Ventersdorpse boeregemeenskap vir hul hulp met die soektog na die verdagtes en die polisie se ondersoekspan onder leiding van kapt. Bonita Dry. Die firma vra dat mense met inligting dit aan die ondersoekspan deurgee en hulle van openbare bespiegeling oor moontlike getuienis weerhou.

Donovan en Louise sê hul geloof en die gebede en ondersteuning van mense regoor die land dra hulle deur dié tyd. Hulle vra dat mense aanhou bid vir sy volle herstel. Donovan het sy dankbaarheid met die slotwoorde van Psalm 150 saamgevat. “Laat alles wat asem het, die Here loof! Halleluja!”

Lees die volledige mediaverklaring hier onder:

10 November 2026 | Potchefstroom, Noordwes

DONOVAN MARX SE HERSTEL VORDER – “LAAT ALLES WAT ASEM HET, DIE HERE LOOF!”

Donovan en Louise Marx spreek hul diepe dankbaarheid uit teenoor God, die mediese personeel, die Suid-Afrikaanse Polisiediens en duisende Suid-Afrikaners wat hulle sedert die plaasaanval van 28 Oktober 2026 met gebede, liefde en ondersteuning omring het.

Byna twee weke nadat Donovan Marx tydens ‘n gewelddadige plaasaanval in die Ventersdorp-omgewing ernstig beseer is, het Donovan en Louise Marx vandag die bemoedigende nuus gedeel dat sy herstel baie goed vorder.

Donovan, wat ernstige beserings tydens die aanval opgedoen en verskeie mediese prosedures ondergaan het, toon merkwaardige vordering. Hoewel sy herstelproses voortduur, is hy en die familie besonder dankbaar vir die positiewe ontwikkeling in sy gesondheidstoestand.

Donovan en Louise het ook toestemming verleen dat ‘n onlangse foto van hulle saam in die hospitaal met die media en publiek gedeel mag word.

Die foto is nie bloot ‘n beeld van Donovan se fisiese herstel nie, maar ook ‘n getuienis van geloof, hoop, gebed en die buitengewone ondersteuning wat hulle ontvang het.

“Ons sien die ingrypende hand van ons Hemelse Vader”

Donovan en Louise skryf sy herstel in die eerste plek toe aan die genade en ingryping van hulle Hemelse Vader, asook die buitengewone toewyding van die mediese personeel wat hom versorg.

Hulle wil graag hul opregte dankbaarheid teenoor elke persoon uitspreek wat ‘n rol in Donovan se behandeling en herstel gespeel het.

‘n Besondere woord van dank gaan aan die volgende persone, instansies en gemeenskappe:

DIE MEDIESE PERSONEEL EN DIE INTENSIEWESORGEENHEID

Donovan en Louise betuig hul diepste waardering teenoor die dokters, verpleegpersoneel en ander gesondheidswerkers van Mediclinic Potchefstroom.

‘n Spesiale woord van dank gaan aan die personeel van die intensiewesorgeenheid (ICU), wie se professionele kundigheid, vaardigheid, deernis en toewyding ‘n onmisbare rol in Donovan se behandeling gespeel het.

Hulle sorg het veel verder as bloot mediese behandeling gestrek.

Donovan en Louise beskryf hoe die personeel hulle nie alleen fisies nie, maar ook emosioneel en geestelik deur van die moeilikste oomblikke van hulle lewe gedra het.

ER24 EN DIE HOSPITAALBESTUUR

Donovan en Louise bedank ER24 vir hul vinnige reaksie op die noodsituasie, die aanvanklike behandeling en die professionele wyse waarop hulle Donovan bygestaan het.

Hulle spreek ook besondere dank uit teenoor die bestuur van Mediclinic Potchefstroom vir hul volgehoue bystand, betrokkenheid, ondersteuning en deernis teenoor die familie.

DIE SUID-AFRIKAANSE GEMEENSKAP EN GELOOFSFAMILIE

Donovan en Louise is oorweldig deur die liefde en omgee wat hulle van mense regoor Suid-Afrika ontvang het.

Hulle bedank elke persoon wat saam met hulle gebid, geglo en gehoop het.

Die ondersteuning van hulle geloofsfamilie en die talle gebede wat vanuit gemeentes en gemeenskappe regoor die land opgestuur is, was vir hulle ‘n besondere bron van krag.

Hulle spreek ook hul opregte waardering uit teenoor naaste familie en vriende wat hulle gedurende hierdie moeilike tyd met liefde, diensbaarheid en praktiese hulp omring het.

Elke besoek, pakkie, ete, koppie koffie, bos blomme en boodskap van bemoediging het vir hulle besondere betekenis gehad.

Donovan en Louise is ook diep dankbaar vir die talle aanbiedinge van mediese hulp, finansiële ondersteuning, verblyf en ander praktiese bystand.

Baie van hierdie gebare het gekom van mense wat hulle nog nooit persoonlik ontmoet het nie.

DIE BOEREGEMEENSKAP VAN VENTERSDORP

‘n Besondere woord van dank gaan aan die boeregemeenskap van Ventersdorp en omliggende gebiede.

Donovan en Louise waardeer die gemeenskap se betrokkenheid en hulp met die soektog na die verdagtes ná die aanval, asook die talle ander vorme van ondersteuning wat hulle ontvang het.

Hulle spreek ook hul waardering uit vir die gemeenskap se volgehoue solidariteit en steun vir die strewe na geregtigheid deur die toepaslike regsprosesse.

Dit is vir Donovan en Louise ‘n groot bemoediging om te weet dat hulle gemeenskap agter hulle staan.

DIE SUID-AFRIKAANSE POLISIEDIENS

Donovan en Louise betuig opnuut hul dank teenoor die lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens wat by die ondersoek betrokke is onder die leiding van Kaptein Bonita Dry.

Hulle waardeer die ondersoekspan se vinnige reaksie, harde werk, deursettingsvermoë en toewyding sedert die aanval.

Donovan en Louise respekteer die voortgesette strafregtelike proses en vertrou dat die ondersoek en vervolging deeglik en ooreenkomstig die reg afgehandel sal word.

BESKERMING VAN DIE INTEGRITEIT VAN DIE ONDERSOEK EN STRAFREGTELIKE PROSES

Donovan, Louise en hulle regsverteenwoordigers neem kennis van verskeie openbare uitsprake en mediaberigte waarin individue aanspraak maak op ‘n deurslaggewende rol in die ondersoek en die daaropvolgende inhegtenisnemings.

Hoewel hulle opreg dankbaar is teenoor elke persoon wat op wettige en verantwoordelike wyse hulp verleen of inligting aan die ondersoekbeamptes beskikbaar gestel het, is dit noodsaaklik dat die integriteit van die voortgesette strafregtelike ondersoek en die daaropvolgende hofverrigtinge ten alle tye beskerm word. Daar is ongelukkig ook individue wat blykbaar aanspraak maak op ‘n groter rol as wat hul werklik vertolk het.

Dit is van besondere belang dat die ondersoek en die behoorlike voer van die strafsaak nie benadeel of belemmer word deur die ongemagtigde of ongeoorloofde bekendmaking van vertroulike ondersoekinligting, moontlike getuienis of besonderhede rakende die meriete van die saak nie, hetsy deur sosiale media, tradisionele nuusmedia of enige ander openbare platform.

Donovan en Louise se regsverteenwoordigers beklemtoon dat die voortydige openbaarmaking van inligting, ongeag of dit geverifieer of ongeverifieer is, moontlik die ondersoek, die veiligheid en integriteit van getuies en die behoorlike aanbieding en beoordeling van getuienis in die hof kan benadeel.

Daar word gevolglik ‘n beroep op alle individue, organisasies en ander betrokkenes gedoen om verantwoordelik op te tree en hulle te weerhou van openbare bespiegeling oor moontlike getuienis, die identiteit of betrokkenheid van getuies, beweerde bekentenisse, ondersoekmetodes en ander sensitiewe aspekte van die saak.

Donovan en Louise doen ook ‘n beroep op persone wat aanspraak maak op besondere erkenning vir die vordering wat in die ondersoek gemaak is, om die voortgesette strafregtelike proses voorop te stel en nie deur voortydige openbare verklarings onbedoeld die werk van die ondersoekbeamptes of die vervolgingsgesag in gevaar te stel nie.

Die vasstelling van die feite, die insameling en behoorlike aanbieding van getuienis en die strafregtelike vervolging van die beskuldigdes moet binne die toepaslike regsraamwerk geskied. Die uiteindelike beoordeling van die getuienis en die bepaling van strafregtelike aanspreeklikheid berus by die hof.

Donovan en Louise respekteer die publiek en die media se reg om inligting te ontvang en op ‘n wettige, akkurate en verantwoordelike wyse oor die saak verslag te doen. Hierdie reg behoort egter uitgeoefen te word met behoorlike inagneming van die veiligheid van getuies, die belange van die slagoffer en die integriteit van die regspleging.

Dit is belangrik dat die ondersoek suksesvol en regmatig afgehandel word, dat alle relevante en toelaatbare getuienis behoorlik voor die hof geplaas word en dat geregtigheid uiteindelik geskied.

Die familie maak staat op die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die Nasionale Vervolgingsgesag om hulle onderskeie statutêre verantwoordelikhede onafhanklik en sonder onbehoorlike inmenging uit te voer.

Alle persone wat oor moontlik relevante inligting beskik, word aangemoedig om dit eerder deur die toepaslike amptelike kanale aan die ondersoekspan beskikbaar te stel as om dit op openbare platforms te versprei.

‘n PERSOONLIKE BOODSKAP VAN DONOVAN EN LOUISE AAN SUID-AFRIKA

Donovan en Louise wil graag die volgende boodskap aan elke Suid-Afrikaner oordra:

“Daar is eintlik nie genoeg woorde om ons dankbaarheid te beskryf nie.

Ons het die afgelope twee weke liefde en ondersteuning beleef op ‘n manier wat ons nooit sal vergeet nie.

Ons glo dat die Here se hand deur hierdie hele pad oor ons was. Ons is ongelooflik dankbaar vir elke dokter, verpleegkundige, familielid, vriend en onbekende persoon wat vir ons gebid, ons ondersteun en ons gehelp het.

Julle het ons geestelik en fisies gedra. Julle het ons staande gehou.

Ons is positief oor die toekoms en sien met geloof en verwagting uit daarna om te beleef hoe God se Naam deur alles wat gebeur het, verheerlik gaan word.

Uit die diepte van ons harte: baie, baie dankie.”

DONOVAN SE PERSOONLIKE BOODSKAP VAN GELOOF

Donovan het versoek dat sy boodskap aan Suid-Afrika veral deur twee gedeeltes uit die Bybel uitgedra word.

Efesiërs 6:12–15:

Hierdie Skrifgedeelte herinner gelowiges daaraan dat die diepste geestelike stryd nie teen vlees en bloed is nie, en roep hulle op om die volle wapenrusting van God aan te trek.

Die woorde wat Donovan besonder na aan die hart lê, is:

“Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. Daarom, neem die volle wapenruting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly. Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord, met die borswapen van die geregtigheid aan, en as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangele van vrede.”

Psalm 150:

Donovan wil ook graag hê dat sy dankbaarheid en lof aan God deur Psalm 150 uitgedruk word.

Die Psalm is ‘n loflied wat gelowiges oproep om God vir sy magtige dade en grootheid te prys.

Sy boodskap word saamgevat in die slotwoorde:

“Laat alles wat asem het, die Here loof! Halleluja!”

DIE PAD VORENTOE

Hoewel Donovan se herstel steeds tyd en mediese sorg sal verg, is hy, Louise en die familie positief en vol vertroue oor die pad vorentoe.

Hulle versoek dat Suid-Afrikaners sal voortgaan om vir sy volledige herstel, verdere behandeling en die welstand van die familie te bid.

Donovan en Louise se boodskap bly een van geloof, hoop, dankbaarheid en vrede.

“Laat alles wat asem het, die Here loof! Halleluja!” – Psalm 150:6

UITGEREIK DEUR:

Steyn du Toit Ing.