OOS-KAAP. – Meer as 160 aangehoudenes het gedurende die afgelope drie boekjare uit polisie-aanhouding in die Oos-Kaap ontsnap, met nóg 30 ontsnappings wat reeds in die huidige finansiële jaar aangeteken is.
Volgens Yusuf Cassim, DA-skadulid vir gemeenskapsveiligheid in die provinsiale wetgewer, dui dié syfers op ernstige tekortkominge betreffende toesig en dissiplinêre optrede binne die provinsiale veiligheidstelsel. Hy sê beskuldigdes loop vry rond terwyl gemeenskappe onseker en slagoffers weer getraumatiseer word.
In antwoord op ’n parlementêre vraag het Xolile Nqatha, die LUR vir gemeenskapsveiligheid, bevestig dat 43 gevangenes in 2022/23 ontsnap het, 58 in 2023/24, 36 in 2024/25 en reeds 30 vanjaar. Hoewel sommige weer in hegtenis geneem is, bly verskeie steeds soek: 22 van 2022/23, 26 van 2023/24, 17 van 2024/25 en nog 17 van die huidige boekjaar. Die departement erken dat ontsnappings dikwels verband hou met verkeerde vrylatings, probleme tydens vervoer en nalatigheid deur beamptes.
Cassim sê die DA gaan skriftelik by die LUR aandring op ’n dringende ingrypingsplan, insluitend streng nakoming van prosedures by polisiekantore en duidelike verslagdoening oor dissiplinêre stappe. Die probleem word verder vererger deur swak toestande by polisieselle. ’n Onlangse toesigverslag toon dat verskeie stasies nie hul aanhoudingselle kan gebruik nie weens onveilige of vervalle infrastruktuur. By Thornhill is daar geen selle nie, terwyl selle by KwaBhaca onbruikbaar is.
Die wetgewer beveel aan dat daar dringend gekyk moet word om geskikte aanhoudingsgeriewe te vestig. Die DA sê inwoners van die Oos-Kaap verdien om veilig te voel en vertroue te hê dat gearresteerdes in aanhouding sal bly.
Nuusflits het polisiekommentaar gevra.





