MPUMALANGA. – Werner Albertus Müller (44) is tot effektief 40 jaar direkte gevangenisstraf deur die Middelburg-hooggeregshof vir die moord op sy vrou, René Collen Priscilla Müller, gevonnis. Die vrou se liggaam was in ‘n sak in die buitekamer versteek.
Monica Nyuswa, NVG-woordvoerder, sê Müller en sy vrou was minder as ’n jaar getroud toe ’n argument gedurende April vanjaar by hul woning in Secunda tot die noodlottige aanval gelei het. Die egpaar het volgens die NVG oor die haal van Werner Müller se medikasie vir depressie gestry. Die argument het handuit geruk en Müller het ’n kombuismes gegryp en sy vrou verskeie kere gesteek. Ná die moord het hy probeer om die voorval te verbloem deur die vloer en ander oppervlaktes skoon te maak en sy vrou se liggaam in ’n buitekamer weg te steek.
Die nadoodse ondersoek het aan die lig gebring dat René Müller 18 steekwonde opgedoen het, waaronder beserings wat daarop dui dat sy haarself probeer beskerm het.
Müller het ingevolge ’n pleit-en-vonnisooreenkoms skuld erken. Hy is tot 40 jaar vir moord en vyf jaar vir die verydeling van die gereg gevonnis. Die vonnisse loop gelyktydig, wat sy effektiewe vonnis op 40 jaar te staan bring. Hy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.





