LIMPOPO. – Nege leerlinge tussen 15 en 19 jaar oud verskyn na verwagting vandag in die Mankweng-landdroshof nadat hulle glo by ’n skool buite Moria in ’n voorval met ’n veiligheidswag betrokke was.
Kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, sê die voorval het Maandagoggend by ’n hoërskool in Mountain View, Boyne, plaasgevind. Die 45-jarige veiligheidswag was by die hoofhek aan diens toe die groep leerlinge glo toegang tot die skoolterrein wou verkry. Die leerlinge is na bewering meegedeel dat hulle slegs met hul ouers se begeleiding toegang sou kry, ingevolge die skool se beheerliggaam se instruksies.
Hulle het glo hierna aggressief geraak, die veiligheidswag oorrompel en die hek oopgedwing. Tydens die voorval is die man na bewering gestamp en het hy geval, wat tot ’n besering aan sy regterhand gelei het. Hy is volgens die polisie ook glo beledigende en vernederende taal toegesnou.
Die polisie het al nege leerlinge in hegtenis geneem. Hulle is later op waarskuwing vrygelaat en moet vandag op aanklagte van gewone aanranding en crimen injuria in die hof verskyn. Die ondersoek duur voort en verdere aanklagte kan volg.





