TURKYE. – Turkse owerhede het ’n ondersoek begin na ernstige bewerings dat minderjarige meisies uit Turkye moontlik deur die netwerk van die seksmisdadiger Jeffrey Epstein verhandel is.
Die ondersoek volg ná die vrystelling van miljoene Amerikaanse hof- en justisiedokumente. In dié dokumente word beweer dat Epstein minderjarige meisies uit Turkye, die Tsjeggiese Republiek, Asië en ander lande per privaatvliegtuig vervoer het. Elke keer wanneer hy na ’n nuwe bestemming gereis het, sou dieselfde patroon van seksuele misbruik plaasvind. Baie van die meisies kon glo nie Engels praat nie.
Turkse politici vra nou vir ’n parlementêre ondersoek om vas te stel of enige Turkse meisies slagoffers was, en indien wel, wat met hulle gebeur het. Parlementslede het ook vrae gerig aan regeringsdepartemente oor of daar voldoende ondersoeke in skole en kinderhuise gedoen is om moontlike slagoffers op te spoor.
Die kantoor van president Recep Tayyip Erdoğan sê die regering is bewus van die bewerings en sal ernstige ondersoeke instel. Een parlementslid het daarop gewys dat meer as 100 000 kinders tussen 2008 en 2016 as vermis in Turkye aangemeld is, waarvan die meeste jong meisies was. Dit versterk volgens hom die behoefte aan ’n deeglike ondersoek.
‘n Aantal senior Turkse amptenare word in die dokumente genoem, hoewel daar geen vaste bewys is dat hulle by enige oortreding betrokke was nie.
Geen finale bevindings is nog gemaak nie, maar die ondersoek duur voort.
Bronne: Bianet, Middleeasteye, Hurriyt Daily News






