GAUTENG. – Dit is die eerste keer in 21 jaar dat die Landbounavorsingsraad (LNR) se Onderstepoort Veeartsenykundige Navorsingskampus weer bek-en-klouseer-entstowwe plaaslik vervaardig.
John Steenhuisen. die minister van landbou, het Vrydag die eerste 12 900 plaaslik vervaardigde bek-en-klouseer-entstofdosisse in meer as 20 jaar by die LNR se Onderstepoort-kampus verwelkom en dit as ’n keerpunt beskryf. Plaaslike produksie is in 2005 gestaak, maar is nou hervat met moderne tegnologie om Suid-Afrika se bek-en-klouseer-vrye status te help herwin. Die dosisse sal na verskeie provinsies versprei word, terwyl produksie vanaf Maart tot 20 000 dosisse per week opgeskaal sal word. Intussen word ingevoerde entstowwe gebruik om die huidige uitbreking te bekamp. ‘n Nasionale rampverklaring is in die pyplyn om massa-inenting te versnel.
Desiree van der Walt, DA-LP en lid van die portefeuljekomitee oor landbou, sê dit is ‘n groot mylpaal vir Suid-Afrika se landbou-biosekuriteit. Die deurbraak kom te midde van die ergste uitbrekings van bek-en-klouseer in dekades, nadat die siekte sedert 2019 versprei het. Van der Walt sê die langdurige verwaarlosing van plaaslike entstofproduksie het Suid-Afrika afhanklik gemaak van brose internasionale voorsieningskettings. “Die herbegin van produksie by die LNR is ’n keerpunt. Dit help om die gaping te oorbrug totdat ingevoerde entstowwe die land bereik,” het sy gesê. Teen einde Januarie 2026 was sowat twee miljoen diere reeds ingeënt.
Van der Walt sê onstabiliteit by die LNR en Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) het oor jare heen produksievermoë, infrastruktuur en kundigheid ondermyn, wat die land se entstofsekerheid verswak het. Volgens die party is die hervatting van produksie die gevolg van volgehoue hervormings, die herstel van infrastruktuur en strenger maatreëls soos bewegingsbeheer, siektebestuursgebiede, kwarantynprotokolle en verskerpte regulasies wat in Junie 2025 gepromulgeer is. Die DA meen die ontwikkeling dui daarop dat Suid-Afrika weer institusionele kapasiteit opbou om diergesondheidsuitbrekings vinniger en doeltreffender te hanteer.
Druk hier om meer te lees.





