President Cyril Ramaphosa het in sy jongste staatsrede belowe dat die regering sy fokus sal verskerp op kwessies wat Suid-Afrikaners se sak direk raak – insluitend water, elektrisiteit, werkloosheid, voedselarmoede, misdaad en lewenskoste.
Ramaphosa het tydens sy staatsrede erken dat watertekorte tans een van die grootste bekommernisse vir huishoudings is en aangekondig dat ’n nasionale waterkrisiskomitee aangestel sal word om die probleem dringend aan te spreek. Meer as R156 miljard is oor die volgende drie jaar vir water- en sanitasie-infrastruktuur begroot. Munisipaliteite wat versuim om waterdienste te lewer, kan hulle lisensies verloor, terwyl strafregtelike klagtes reeds teen verskeie rade gelê is. Volgens hom moet geld wat uit waterinvordering kom, teruggeploeg word in pype, reservoirs en pompstasies en nie vir ander uitgawes gebruik word nie.
Die president het verder gesê beurtkrag is beëindig en dat die energiestelsel hervorm word om tariewe oor die lang termyn te stabiliseer. Eskom word herstruktureer met groter mededinging in die mark. Teen 2030 sal meer as 40% van die land se energie uit hernubare bronne kom, ’n stap wat volgens hom uiteindelik goedkoper elektrisiteit vir verbruikers kan beteken.
Volgens Ramaphosa het Suid-Afrika twee opeenvolgende primêre begrotingsurplusse behaal, inflasie is op ’n 20-jaar-laagtepunt en rentekoerse is besig om te daal. Hy het gesê staatskuld word gestabiliseer en die rand het teenoor die dollar versterk – faktore wat verligting vir huishoudings en ondernemings kan bring. Meer as R1 triljoen is vir infrastruktuurprojekte oor drie jaar opsygesit om groei aan te wakker en werk te skep.
Meer as 2,5 miljoen werksgeleenthede is volgens die president reeds deur die Presidensiële Werkskeppingsprogram geskep. Die regering sal vanjaar R2,5 miljard aan meer as 180 000 klein en medium ondernemings beskikbaar stel, plus R1 miljard in waarborge om toegang tot finansiering te vergemaklik. Regulasies oor krediet en besigheidslisensiëring sal hersien word om dit makliker te maak om ’n onderneming te begin en uit te brei.
Die SRD-toelaag word voortgesit, maar sal herontwerp word om mense beter toegang tot werk en vaardigheidsontwikkeling te gee. Ramaphosa het erken dat baie huishoudings steeds swaarkry, met hoë voedsel- en vervoerkoste wat druk plaas op gesinsbegrotings.
Georganiseerde misdaad bly volgens die president ’n direkte bedreiging vir ekonomiese groei en werkskepping. Die Suid Afrikaanse Nasionale Weermag sal in sekere gebiede ontplooi word om die polisie te ondersteun in die stryd teen bendes en onwettige mynbou. Nog 5 500 polisielede sal vanjaar gewerf word.
Met ’n rekord-matriekslaagsyfer van 88% sê Ramaphosa die fokus skuif nou na vaardigheidsontwikkeling en beter werksintegrasie, veral vir jongmense.
Hy het erken dat baie Suid-Afrikaners steeds sukkel om werk te kry en basiese dienste te ontvang, maar het volgehou dat die land ’n draaipunt bereik het. Volgens hom moet ekonomiese groei, beter dienslewering en sterker optrede teen misdaad in 2026 sigbare verligting in huishoudings se sak bring.
Druk hier om die volledige staatsrede te lees.





