OOS-KAAP. – Vyf vroue is elk op borgtog van R1 000 vrygelaat, nadat hulle op aanklagte van bedrog in die Kariega-landdroshof verskyn het. Die ondersoek spruit uit die moord op Cynthia Nowizana Mali (56) op 18 Januarie in die Mahashe-gebied, Despatch, waarna onwettige versekeringseise ingedien is.
Kapt. Sandra Janse van Rensburg, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring Despatch-speurders het Zizipho Foster (26), Thandiswa Mama (40), Yanga Mfengu (23), Pholisa Luguxa (46) en Nomaqadi Koli (40) in hegtenis geneem nadat dit tydens die moordondersoek na vore gekom het dat daar glo onwettige versekeringseise ná die slagoffer se dood ingedien is. Die vyf vroue is op 10 Februarie aangekeer en het die volgende dag in die hof verskyn, waarna die saak vir ’n formele borgtogaansoek uitgeestel is.
Die slagoffer is verskeie kere met ’n mes in die bolyf gesteek. Die moordondersoek duur steeds voort. Die saak teen die vroue is tot 10 April uitgestel.





