VSA. – Nasionale Wyndrinkdag is op 18 Februarie 2007 deur Todd McCalla ingestel, wie se hoop was om die liefde vir die eenvoudige daad om ’n glas wyn te geniet, te versprei.
Volgens die webwerf DaysoftheYear.com kan die geskiedenis van wyn self kan meer as 8 000 jaar teruggevoer word na wynmakers in die Eurasië-streek wat vandag as Georgia bekend staan.
Die alkoholiese drank het sedertdien ’n belangrike rol in die samelewing gespeel en is oor baie geslagte heen in al vier uithoeke van die wêreld gedrink.
Iraniërs, Italianers en Europeërs in die Balkan het almal ryk geskiedenisse van wynproduksie wat terugdateer na antieke tye, terwyl China reeds so vroeg as 7 000 v.C. baie soortgelyke alkoholiese drankies vervaardig het.
Wyn word gevolglik al eeue lank deur aanhangers gevier en word dikwels as deel van ’n maaltyd geniet of om sosiale geleenthede te vier.
In vandag se wêreld word byna 20 miljoen akker van die aarde se oppervlakte aan druiweverbouing vir wynfermentasie gewy.
Daar is letterlik duisende handelsmerke en variasies wat rooiwyne, witwyne, vonkelwyne en roséwyne insluit, terwyl heuningwyn, vrugtewyn en nageregwyne geredelik vir miljoene beskikbaar is. Boonop is die ervaring om wyn te geniet nou verweef met die mens se geskiedenis.
Byvoorbeeld, die gebruik om glase teen mekaar te klink en “gesondheid” te sê, kan teruggevoer word na die antieke Romeine – iets wat aanhangers van Cheers, met karakters soos Sam Malone en Diane Chambers, dalk sal verras.
Bron: DaysoftheYear.com





