LIMPOPO. – ’n 67-jarige plaaseienaar is Woensdag tydens ’n huisroof op sy plaas in Musina met ’n kabelstrop (cable tie) vasgebind en aangehou. ’n Gewapende man het hom glo met ’n vuurwapen gedreig terwyl geld en vuurwapens geëis is. Die booswigte het met vyf vuurwapens weggekom.
Lt.kol. Masekela Magoro, polisiewoordvoerder, sê die voorval het kort ná 12:00 plaasgevind. Terwyl die man in die sitkamer oorval en aangehou is, het nog drie gewapende verdagtes die huis binnegegaan. Een was saam met ’n vroulike werker. Die slagoffers is na ’n slaapkamer geneem terwyl die verdagtes na die sleutel van ’n kluis gesoek het. Hulle het toegang tot die kluis gekry en vyf vuurwapens gebuit – ‘n .22 Brno-geweer, ’n .303 Lee Enfield-geweer, ’n .223 Brno-geweer, ’n 12-boor Winchester-haelgeweer en ’n windbuks ter waarde van sowat R50 000.
Twee mikroskope ter waarde van sowat R20 000, twee selfone ter waarde van sowat R17 300 en ’n onbekende bedrag kontant is ook gesteel, waarna die slagoffers in die slaapkamer toegesluit is. Die verdagtes het met die klaer se wit Toyota Hilux 2.8 GD-6 gevlug, wat later verlate in die Mapani-gebied naby die spoorlyn gevind is. Die slagoffers kon daarin slaag om hulself te bevry en het die polisie in kennis gestel.
’n Saak van huisroof word ondersoek. Enigiemand met relevante inligting kan sers. Jimmy Rambuwani by 076 476 7520 bel.





