NOORD-KAAP. – ‘n Man (22) van Dithakong-dorp naby Kuruman is deur die Bothitong-polisie in hegtenis geneem in verband met die beweerde moord op twee vroue, onderskeidelik 92 en 61 jaar oud.
Lt.kol. Thabo Litabe, polsiewoordvoerder, sê die voorval het Dinsdag omstreeks 12:00 plaasgevind. Die polisie het twee vroue met ernstige kop- en gesigbeserings in ’n plas bloed op die toneel aangetref. ’n 61-jarige vrou is op die toneel dood verklaar, terwyl ’n 92-jarige vrou na ’n hospitaal geneem is. Sy het later aan haar beserings beswyk.
Die verdagte staan tereg op twee aanklagte van moord en sal na verwagting binnekort in die hof verskyn.
Brig. Kenneth Baloyi, die waarnemende bevelvoerder van die John Taolo Gaetsewe-distrik, het die aanval sterk veroordeel en die polisiebeamptes vir die vinnige inhegtenisneming van die verdagte geprys. Hy sê geweld teen vroue kan nie geduld word nie en dat oortreders streng hanteer sal word.





