MPUMALANGA. – Vier polisiebeamptes van Carolina is Woensdag in hegtenis geneem omdat hulle na bewering betrokke was by die verduistering van dagga wat in beslag geneem is. In plaas daarvan om die dagga na die polisiekantoor te neem, het hulle na bewering sommige sakke aan ’n plaaslike handelaar in tweedehandse ware vir kontant verkoop.
Kol. Mavela Masondo sê ondersoek is ingestel nadat die vier beamptes ‘n geparkeerde voertuig by ‘n gastehuis deursoek het wat vermoedelik ’n groot hoeveelheid dagga bevat het. Hulle het dagga in die voertuig gekry en daarop beslag gelê.
‘n Ondersoek het daarna tot die beamptes se inhegtenisneming gelei. Die drie konstabels en ‘n sersant word van diefstal, korrupsie en regsverydeling aangekla.
Die beamptes het Donderdag op die aanklagte in die Carolina-landdroshof voorgekom.





