MPUMALANGA. – Twee van 40 beskuldigdes het nie Donderdag in ’n R114 miljoen-korrupsiesaak, wat die Mpumalanga-onderwysdepartement raak, by die hof opgedaag nie. Altesaam 38 van die 40 beskuldigdes het wel in die hof verskyn. Hulle staan tereg op aanklagte van onder meer korrupsie, bedrog, diefstal en geldwassery en is vroeër op borgtog van tussen R5 000 en R50 000 vrygelaat.
Lt.kol. Magonseni Nkosi, woordvoerder van die Valke, sê Consolation Mdluli en Brigitt Mthalana het nie vir hulle hofverskyning opgedaag nie en mediese redes aangevoer. Lasbriewe vir die twee beskuldigdes se inhegtenisneming is uitgereik, maar dit is voorlopig teruggehou. Mthalana moet op 10 April weer in die hof wees en Mdluli op 2 Julie. Indien hulle nie opdaag nie, kan hul borgtog verbeur word.
In ’n verwante saak moet Ruth Khoza nou self ’n prokureur aanstel omdat sy nie vir regshulp kwalifiseer nie. Die saak is tot 2 Julie uitgestel, wanneer alle beskuldigdes weer in die hof moet verskyn. Die Valke sê die ondersoek fokus steeds daarop om korrupsie in staatsinstellings aan te pak.





