WES-KAAP. – Die liggaam van ’n 56-jarige vrou van Sedgefield is Donderdag by Coney Glen naby die Knysna-koppe (Knysna Heads) gevind, nadat ’n soektog na haar van stapel gestuur is. Sy het glo haar eie lewe geneem.
AO Christopher Spies, polisiewoordvoerder, het aan Nuusflits gesê die polisie is Woensdagmiddag na die parkeerarea by die Knysna-koppe ontbied nadat ’n verlate voertuig met sleutels daar gevind is. ’n Soektog na die bestuurder is in die omgewing begin, onder meer met behulp van ’n private hommeltuig. Die liggaam van ‘n vrou is uiteindelik in die rotsagtige gebied opgespoor.
‘n Operasie met verskeie nooddienste en ander rolspelers soos die polisie, polisieduikers, nood- mediese dienste, Knysna-patologiese dienste, die NSRI en Allsound Security is Donderdagoggend van stapel gestuur.
Die vrou se liggaam is later uit die gebied gebring en haar naasbestaandes het haar dieselfde middag uitgeken. Die presiese omstandighede wat tot haar dood gelei het, word ondersoek. Spies het bevestig dat daar tans geen aanduiding van gemene spel is nie. ‘n Geregtelike doodsondersoek is geopen.
Indien jy hulp nodig het of iemand ken wat hulp nodig mag hê, maak kontak met SADAG by 0800 567 567. Die diens is gratis, 24 uur per dag.





