Egpaar skuldig bevind aan 1 151 aanklagte

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie

VRYSTAAT. – Daniel Jacobus Fourie (60), ’n voormalige polisiebeampte, en Francina Fourie (55), sy vrou, is in die Welkom-streekhof gevonnis nadat hulle op altesaam 1 151 aanklagte skuldig bevind is. Die aanklagte het onder meer poging tot moord ingesluit.

Sers. Palesa Thabana, polisiewoordvoerder, sê die man is tot vyf jaar direkte gevangenisstraf gevonnis, terwyl sy vrou tot 36 maande korrektiewe toesig gevonnis is. Die sake spruit uit verskeie voorvalle wat tussen 2015 en 2019 plaasgevind het. Dit het onder meer lasterlike en intimiderende graffiti, boodskappe en beskuldigings teen ’n slagoffer ingesluit. Vier sake van poging tot moord is ook in 2017 geregistreer nadat verskeie skote in die rigting van die slagoffer se woning en sakeperseel afgevuur is.

Die sake is onder leiding van lt.kol. Ben Strydom deur Odendaalsrus-speurders ondersoek. Fourie, wat destyds nog ’n lid van die polisiediens was, is tydens die ondersoek deur middel van selfoonverbindings as ’n verdagte geïdentifiseer. Hy is in Februarie 2019 in hegtenis geneem nadat ’n lasbrief uitgereik is en is later op borgtog van R5 000 vrygelaat. Die vervolging het daarna ook tot gevolg gehad dat Francina Fourie as die tweede beskuldigde tot die saak gevoeg is.

Ná meer as 40 hofverskynings is die egpaar op 7 April skuldig bevind aan onder meer kwaadwillige beskadiging van eiendom, crimen injuria en intimidasie. Die saak is daarna drie keer vir vonnisoplegging uitgestel, voordat die hof hulle op 30 Julie gevonnis het.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief