Winter Hotel, bestaande uit Bernice West en Droomsindroom is amptelik met sy eerste enkelsnit, Heuning bekendgestel. Heuning se woorde en melodie vang jou vinnig vas en dwing jou om te luister.
Die projek se kreatiewe proses begin hoofsaaklik by Kirsten Richard Schlebusch, wat as hoofliedjieskrywer optree. Sy idees word verder saam met Bernice West en Kyle Joshua Schlebusch ontwikkel, terwyl die bekroonde vervaardiger Peach van Pletzen vir die finale produksie verantwoordelik is.
Winter Hotel beskryf hul klank as tydloos, met organiese instrumente, intieme sang, diep, lae frekwensies en moderne produksie. Die wisselwerking tussen die twee hoofstemme vorm ’n belangrike deel van die groep se klank.
Volgens Fanie Nel van die Coleske Groep het Toelaat vyf weke lank die nr. 1-posisie beklee en in dié tyd meer as een miljoen stromings behaal. Die groot reaksie van luisteraars het die kunstenaars aangespoor om die samewerking in ’n nuwe musikale rigting te neem. Winter Hotel is egter nie bloot ’n voortsetting van Bernice West of Droomsindroom se bestaande projekte nie, maar ’n nuwe groep met sy eie identiteit, klank en verhaal. Die musiek, lirieke, visuele styl, verhoogproduksie en storievertelling is almal deel van dieselfde kreatiewe wêreld.
Heuning handel oor die gevoel van verlief raak en die verwondering wat liefde in ’n mens kan wakker maak. Die liedjie gebruik onder meer natuurbeelde en metafore om temas soos kwesbaarheid, vertroue en emosionele veiligheid aan te pak. Die beeld van heuning in ’n koppie tee op ’n Sondagoggend simboliseer die ekstra soetheid wat iemand tot die alledaagse lewe kan toevoeg. Dit is die eerste van verskeie liedjies wat oor die volgende paar maande vrygestel sal word en uiteindelik deel sal vorm van die volledige kortspeler, genaamd Winter. Hoewel elke liedjie onafhanklik kan staan, sal die musiek saam ’n groter verhaal vertel.
Die visuele identiteit is net so belangrik soos die musiek. Chantelle Schnetler Design het spesiale kostuums vir die projek ontwerp, terwyl teaterregisseur Jannes Erasmus by die ontwikkeling van die verhoogproduksie en atmosfeer betrokke was. Cinastage Studios het die musiekvideo vervaardig en Silbermann Studios het die fotografie behartig. Die musiekvideo vir Heuning gee ook ’n eerste kykie na die wêreld wat Winter Hotel met toekomstige vertonings wil skep, ’n ervaring wat volgens die groep meer soos ’n teaterproduksie as ’n gewone musiekvertoning moet voel.
Met Heuning word die eerste deur na Winter Hotel se wêreld oopgemaak, met verdere musiek wat uiteindelik tot die vrystelling van die Winter-EP sal lei.
Kry Heuning hier op stromingsdienste.





