8-jarige in fratsongeluk oorlede

Lees ook :

Foto's: Esselen Primêre Skool en Breedevallei Munisipaliteit

WES-KAAP. – Granville “Peanut” van der Horst (8) van Primêre Skool Esselenpark in Worcester is Donderdagmiddag oorlede in ‘n fratsongeluk op ‘n sportveld in Fairbarnstraat oorlede.

Volgens CGN Crime het ‘n rugby-oefenskrummasjien op hom geval en sy maats kon dit nie oplig nie. Die struktuur is later deur twee rugbyspelers van hom afgelig, maar die jong seun was noodlottig beseer, waarna die polisie ontbied is.

Die skool het sy medelye met Granville se familie, maats, opvoeders en almal wat hom geken en liefgehad het, uitgespreek. Volgens die skool het sy onverwagse dood die hele skoolgemeenskap diep geraak en laat dit ’n groot leemte in die harte van diegene wat hom geken het. Die skool het ook hulde gebring aan Granville en gesê sy kosbare herinneringe sal voortleef in die harte van almal wat hom geken het. “Rus in vrede, Granville ‘Peanut’ van der Horst.”

Antoinette Steyn, die uitvoerende burgemeester van die Breedevallei-munisipaliteit, sê die verlies van ’n agtjarige kind is ’n groot slag wat nie net sy naasbestaandes nie, maar die hele Worcester-gemeenskap raak. Die munisipaliteit het ook bevestig dat die betrokke owerhede ’n geregtelike ondersoek na die voorval ingestel het.

Die munisipaliteit sê hy respekteer die voortgesette ondersoek en vertrou dat dit die omstandighede van die ongeluk sal vasstel. Granville se familie, vriende en die skoolgemeenskap word in dié moeilike tyd in die munisipaliteit se gedagtes en gebede gehou.

Sers. Wesley Twigg, polisiewoordvoerder, sê aan Nuusflits die plaaslike polisie het Donderdagmiddag omstreeks 17:30 ’n geregtelike doodsondersoek geregistreer nadat ’n agtjarige seun in ’n voorval by ’n sportfasiliteit in Fairbairnstraat oorlede is. Volgens Twigg word die omstandighede van die voorval steeds ondersoek. ’n Nadoodse ondersoek sal gedoen word om die oorsaak van sy dood vas te stel.

Lees die skool se plasing hier onder:

IN MEMORIAM – GRANVILLE “PEANUT” VAN DER HORST

Dit is met diepe hartseer dat die Esselenpark Primêre Skoolgemeenskap kennis neem van die tragiese afsterwe van een van ons geliefde leerders en maatjies, Granville “Peanut” van der Horst, wat Donderdagmiddag in ’n fratsongeluk oorlede is.

Die onverwagse verlies van ’n jong lewe raak ons hele skoolgemeenskap diep. Granville se heengaan laat ’n leemte in die harte van sy familie, maats, opvoeders en almal wat hom geken en liefgehad het.

Namens Mnr. K. A. Sass, die Bestuurspan, Beheerliggaam, Opvoeders en Personeel van Esselenpark Primêre Skool, betuig ons ons opregte en innige meegevoel aan die Van der Horst-familie en geliefdes.

Ons gebede en gedagtes is met die familie gedurende hierdie besonder moeilike tyd van verlies en rou. Mag die Here julle vertroos, versterk en aan julle vrede skenk in die dae wat voorlê.

“Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses.”

— Psalm 34:19

Mag Granville se kosbare herinneringe vir altyd voortleef in die harte van almal wat hom geken het.

Rus in vrede, Granville “Peanut” van der Horst.

Mnr. K. A. Sass

Bestuurspan | Beheerliggaam | Opvoeders | Personeel

Esselenpark Primêre Skool

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief