JOHANNESBURG. Springbokke teen All Blacks het met rustyd op ’n harde fisieke stryd uitgeloop. Die Springbokke het die eerste helfte fisiek oorheers, maar sal teleurgesteld wees hulle het nie ’n groter voorsprong opgebou nie.
Volgens Nuusflits se rugby-adviseur, Jhandré Bredenkamp, was dit ’n uiters fisieke wedstryd, met die Bokke wat die All Blacks in die kontakgebied onder groot druk geplaas het.
Die All Blacks het op hulle beurt probeer om die tempo hoog te hou, die bal vinnig te skuif en die kontakpunte voortdurend te verander.
Twee groot geleenthede laat glip
Die Springbokke het egter twee groot geleenthede laat glip. Jasper Wiese het die bal verloor toe ’n belowende aanval naby die doellyn ontvou het, terwyl Malcolm Marx ook balbesit verloor het in ’n poging om ’n drie te druk.
Die Bokke sal daarom voel hulle moes teen rustyd met meer as sewe punte voor wees.
Nietemin was Suid-Afrika in die eerste helfte die meer dominante span, en die tweede helfte beloof om ’n groot fisieke stryd te wees.





