JOHANNESBURG – Die Springbokke klop die All Blacks 29–22 op die FNB-stadion ná hul beste tweede helfte van die reeks, en neem ’n belangrike 2–1-voorsprong in Rugby’s Greatest Rivalry.
Ná ’n eerste helfte waarin die twee spanne met 12–12 gelykop was, het Suid-Afrika ná rustyd die krane oopgedraai.
Die openingshelfte was allesbehalwe maklik. Sacha Feinberg-Mngomezulu is vroeg vir ’n doelbewuste aanslaan strafbank toe gestuur en Ardie Savea het dadelik daarvan gebruik gemaak om die openingsdrie te druk terwyl die Bokke met 14 man was. Cheslin Kolbe het ook die veld verlaat vir ’n kopbeseringsassessering en nie weer teruggekeer nie.
Springbokke klop die All Blacks met oorheersing voorlangs
Die Bokke se beginspan is langer op die veld gehou en die besluit het vrugte afgewerp, met die voorspelers wat toenemend die fisieke stryd begin oorheers het.
Veral die Springbokke se vaste fasette het die All Blacks onder geweldige druk geplaas. Suid-Afrika het voorvoetbal gekry, die tempo van die wedstryd begin beheer en vir lang tye die besoekers feitlik geen ruimte gegee om hul aanvallende spel aan die gang te kry nie.
Die Bokke se skrum en dryfmaal het ’n sleutelrol gespeel, met Malcolm Marx wat uit ’n kragtige dryfmaal gaan druk het, terwyl ’n strafdrie vroeër ook die Springbokke se oorheersing voorlangs onderstreep het.
Plaasvervangers hou die druk op
Toe die plaasvervangers hul verskyning maak, het die momentum nie afgeneem nie.
Cameron Hanekom en Morné van den Berg was onder die spelers wat onmiddellik positiewe impak gemaak het en gehelp het om die druk op Nieu-Seeland vol te hou.
Vir die grootste gedeelte van die tweede helfte was daar eintlik net een span wat die wedstryd beheer het. Die Springbokke het die All Blacks teruggedwing, die botsings gewen en genoeg druk opgebou om die wedstryd lank voor die finale fluitjie effektief te beklink.
Kurt-Lee Arendse, ’n strafdrie, Jesse Kriel en Marx het die Bokke se vier drieë aangeteken, terwyl Feinberg-Mngomezulu twee doele en ’n strafskop bygedra het.
Samisoni Taukei’aho het in die slotfase nog ’n drie vir Nieu-Seeland gaan druk om die eindtelling meer aanvaarbaar te maak, maar teen daardie tyd was die wedstryd reeds buite die besoekers se bereik.
Eerste sege oor Nieu-Seeland by die FNB-stadion
Die 29–22-oorwinning is ook betekenisvol omdat dit die Springbokke se eerste sege oor die All Blacks by die FNB-stadion is. Hulle het hul vorige twee ontmoetings teen Nieu-Seeland by dié stadion verloor – 22–29 in 2010 en 16–32 in 2012.
Belangriker nog, Suid-Afrika het die Suid-Afrikaanse been van die vier-toetsreeks met ’n 2–1-voorsprong afgesluit en kan die reeks nie meer verloor nie.
Vierde toets in Baltimore
Die twee reuse van wêreldrugby ontmoet mekaar volgende Saterdag, 12 September, by die M&T Bank-stadion in Baltimore in die Verenigde State vir die vierde en laaste toets van die reeks.
Die Springbokke vertrek dus na Amerika met die reeks in hul hande – en met ’n tweede helfte in Johannesburg wat gewys het hoe gevaarlik hulle kan wees wanneer hul voorspelers momentum kry.
Lees ook: Springbokke en All Blacks 12-12 gelykop met rustyd by FNB-stadion en Springbokke teen All Blacks: alle oë op FNB-stadion vandag.