GAUTENG. – Motoriste word gewaarsku om veral saans waaksaam te wees nadat ’n beweerde poging tot kaping op die N1 naby die Garsfontein-wisselaar aangemeld is.
Volgens Mike Bolhuis van Specialised Security Services (SSS) het die voorval omstreeks 20:30 plaasgevind toe ’n vrou wat noordwaarts op die N1 gery het, na bewering deur twee mans genader is wat haar uit haar voertuig probeer dwing het. ’n Gautengse verkeerspolisiebeampte wat in die gebied gepatrolleer het, het die voorval opgemerk en met noodligte geaktiveer na die voertuig beweeg. Die verdagtes het volgens SSS die kapingspoging laat vaar en na’n wagtende voertuig gehardloop.
SSS beklemtoon dat die inligting as ’n voorsorgveiligheidswaarskuwing hanteer word terwyl owerhede die omstandighede van die voorval vasstel. Die veiligheidsmaatskappy sê hy het ook berigte van verdagte aktiwiteite en beweerde pogings tot kaping in die omgewing van die N4 by die Watermeyer-wisselaar en Rossouwstraat, asook die N1 by die Garsfontein-wisselaar, ontvang.
Motoriste word aangeraai om veral saans hul deure gesluit en vensters toe te hou, waardevolle items buite sig te plaas en ekstra versigtig by brûe, afritte en gebiede met beperkte sigbaarheid te wees. SSS waarsku motoriste om nie verdagtes te konfronteer nie en om, waar dit veilig is, verdagte aktiwiteite by die toepaslike owerhede aan te meld.
Druk hier om meer te lees.