KWAZULU-NATAL. – Drie huise het vanoggend in Tshelimnyama, Mariannhill, naby Pinetown, ineengestort nadat aanhoudende swaar reën plaaslike modderstortings veroorsaak het. Altesaam 14 inwoners is tot dusver deur die voorval geraak.
eThekwini-munisipaliteit sê rampbestuur-.en noodspanne bly op ‘n gereedheidsgrondslag nadat swaar reën sedert gister oor die munisipale gebied uitsak. Nooddienste het die terrein beveilig en skoongemaak. Geen sterftes, beserings of mense wat vasgekeer is, is aangemeld nie.
Rampbestuurspanne is besig met verdere assesserings en koördineer onmiddellike humanitêre en noodhulp aan die betrokke gesinne. Die Isipingo-riviermond is intussen oopgemaak om wateropeenhoping te verlig en die risiko van oorstromings in omliggende gemeenskappe te verminder. Die publiek word gemaan om versigtig te wees, aangesien versadigde grond die risiko van verdere modderstortings en plaaslike oorstromings verhoog. Motoriste moet hul hoofligte aanskakel, spoed verminder en nooit probeer om deur oorstroomde paaie of laagwaterbrûe te ry nie.
Noodgevalle en stormverwante skade aan infrastruktuur kan by eThekwini se sentrale rampoproepsentrum op 031 361 0000 aangemeld word.
