POTCHEFSTROOM. – Die polisie ondersoek ’n beweerde ontvoering nadat ’n 35-jarige vrou wat Woensdagoggend op pad werk toe was, Donderdagaand by Dithakong Village gevind is.
Volgens konst. Thuto Bobelo, woordvoerder van die SAPD, het Prudence Motlalepule Mooketsi na bewering omstreeks 07:00 op 16 September ’n kommerwekkende boodskap aan haar kêrel gestuur waarin sy aangedui het dat sy hulp nodig het en dat sy teen haar wil in ’n motorvoertuig is.
Volgens die SAPD het Mooketsi geen inligting oor die aantal verdagtes of persone in die voertuig verskaf nie. Haar kêrel het daarna probeer om haar te bel om haar ligging vas te stel, maar die oproepe is na stempos herlei.
Hy het die voorval by die polisie aangemeld, waarna ’n ondersoek van stapel gestuur is.
Op Donderdagaand 17 September is Mooketsi langs die pad by Dithakong Village afgelaai, nie ver van die plek waar sy na bewering aanvanklik ontvoer is nie.
Lede van die gemeenskap het haar gehelp en die polisie ontbied. Volgens die SAPD was sy erg getraumatiseerd en is nooddienste en mediese reddingsdienste ontbied om haar te behandel.
Die ondersoek duur voort.
Enigiemand met inligting wat die ondersoek kan help, word versoek om die ondersoekbeampte, AO Samuel Matiti, by 082 374 0498 of die naaste polisiestasie te kontak.
Die polisie doen ook ’n beroep op die publiek om nie onbevestigde inligting te versprei wat die ondersoek kan benadeel of onnodige paniek kan veroorsaak nie.
Bron: SAPD