Brekende Nuus
Misdaad

Postmasburg-man kry 10 jaar vir moord op 22-jarige

’n 31-jarige man van Postmasburg is vroeër dié week tot 10 jaar gevangenisstraf gevonnis nadat hy ’n 22-jarige man in Marantheng, Newton, noodlottig met ’n mes gesteek het.

postmasburg man 10 jaar gevangenisstraf moord
Foto: Ter illustrasie

POSTMASBURG. – Mzwakhe Emmanuel Horing (31) is vroeër dié week tot 10 jaar gevangenisstraf gevonnis vir die moord op ’n 22-jarige man in Marantheng, Newton, Postmasburg.

Die voorval het op Maandag 5 Mei 2025 omstreeks 18:10 plaasgevind.

Volgens die polisie het Horing die slagoffer in ’n hewige gesprek met een van sy vriende aangetref. Horing het verkeerdelik tot die gevolgtrekking gekom dat die twee mans fisiek baklei. Hy het sonder om vas te stel wat die situasie is, ’n mes uitgehaal en die slagoffer gesteek voordat hy te voet van die toneel gevlug het.

Die polisie is oor die voorval in kennis gestel en ’n moordsaak is geregistreer.

Die ondersoek is aan AO Tefo Shadrack Makhetha van die Postmasburg-speurders toegewys. Hy het Horing opgespoor en in hegtenis geneem. Die staat het ook borgtog suksesvol teengestaan, waarna Horing in aanhouding gebly het.

Makhetha het verdere getuienis ingesamel wat Horing aan die moord verbind het en tot die suksesvolle vervolging van die saak bygedra.

Horing is skuldig bevind en tot 10 jaar gevangenisstraf gevonnis. Drie jaar van die vonnis is vir vyf jaar opgeskort op voorwaarde dat hy gedurende dié tydperk nie aan ’n soortgelyke oortreding skuldig bevind word nie.

Die hof het hom ook ongeskik verklaar om ’n vuurwapen te besit.

Genl.maj. Monica Sebili, die distrikskommissaris van die ZF Mgcawu-distrik, het die vonnis verwelkom en Makhetha vir sy ondersoekwerk geloof.

Volgens die SAPD toon die skuldigbevinding en vonnis dat die polisie in die Noord-Kaap verbind bly tot die bekamping van ernstige en gewelddadige misdaad en om oortreders voor die gereg te bring.

Bron: SAPD