SOUTPAN. – ’n 45-jarige man is dié week tot 15 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis vir die diefstal van 21 merinoskape ter waarde van sowat R42 000 op ’n plaas naby Soutpan.
Volgens AO Martin Xuma is Ompi Gert Thaele in die Bloemfonteinse landdroshof aan veediefstal skuldig bevind. Hy is ook tot ’n verdere ses maande gevangenisstraf of ’n boete van R3 000 gevonnis nadat hy versuim het om in die hof te verskyn. Die vonnisse loop gelyktydig.
Die veediefstalsaak is op 24 April 2024 geopen nadat die 21 merinoskape gesteel is.
Die Soutpan-polisie is onmiddellik geaktiveer en het Thaele op dieselfde dag naby Ikgomotseng, naby Soutpan, in hegtenis geneem.
Die saak is aan konst. Luyanda Nqae van Parkweg se eenheid vir veediefstal en bedreigde spesies toegeken. Altesaam 17 van die gesteelde skape, ter waarde van sowat R34 000, is op ’n ander plaas in die Soutpan-gebied teruggevind.
Thaele is tydens die hofverrigtinge op borgtog vrygelaat, maar het ná ’n paar hofverskynings versuim om weer in die hof te verskyn.
’n Lasbrief vir sy inhegtenisneming is uitgereik en die polisie het hom weer in Augustus 2026 in hegtenis geneem.
Hy is daarna in die Bloemfonteinse landdroshof skuldig bevind en tot 15 jaar direkte gevangenisstraf vir veediefstal gevonnis.
Bron: SAPD